Louise Gevers
 
Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Romeine 8:15, 1983-vertaling
 
Hoe wonderlik dat op die oomblik van bevrugting lewe in die warmte van die moeder se baarmoeder begin. 'n Wonderlike proses neem 'n aanvang om die versigtig ontwerpte en noodsaaklike dele vir lewe op presies die regte oomblik te vorm, totdat met 'n hartjie wat klop en gereed vir 'n eerste huil, die volledig gevormde babatjie reg is om die veilige hawe te verlaat en in hierdie wêreld te verskyn.
 
Elke babatjie, 'n unieke wese geskep na God se beeld, is vol onontdekte potensiaal – tog is hy, soos sy ouers, bedek met vlees en beperkings. Hierdie beperkings is iets wat ons in ons strewe om sin van die lewe te maak en ons doelwitte te bereik, toenemend beleef totdat ons besef dat ons verby ons menslike beperkings moet kyk na die Een wat ons gees kan bemagtig.
 
Van die oomblik dat 'n baba sy eerste asemteug gee, leef dit in 'n wêreld met alles wat dit inhou. God sien die stryd, hoop, hartseer en vreugde – iets wat alle mense in gemeen het – wat op daardie baba wag. Hy het pragtige Eden vir die eerste mense geskep sodat Hy in 'n verhouding met hulle en hulle nageslag kon wees en bly ten spyte van die stryd en hartseer wat die gevolg van vrye wil was. Selfs toe alles verkeerd geloop het, het God gekies om, deur sy Seun lewe op aarde, ondanks die gevalle staat daarvan, te ervaar.
 
Ons aardse lewe is nie bedoel om eendimensioneel te wees nie. God se duidelike begeerte is om, deur Jesus, ons van die beperkings wat sonde op ons plaas en van onsself te bevry. Sonde beperk ons ontwikkeling en hou ons geestelik onvolwasse wat maak dat ons nie verby onsself kan kyk nie. Dit verarm ons en beroof ons van ons waardigheid en blydskap. "Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees." (Johannes 8:36)
 
Jesus het vir Nikodemus gesê: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. “Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees." (Johannes 3:5-6)
 
Dit bemoedig ons want "die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid." (2 Korinthiërs 3:17, 2020-vertaling) Dit is die krag van die Gees wat 'n mens in staat stel om 'n kind van God te word, Hom "Vader" te noem en wanneer ons bevry word van alles wat ons gevange hou, ware blydskap te beleef.
 
God is 'n God wat Hom verheug oor hierdie unieke, veranderende verhouding met die mense wat Hy gemaak het, en oor die bevryding van sonde, skuld, hartseer, onvergifnis, depressie, verslawing en verwerping wanneer ons na Hom toe kom en sy liefde aanvaar.
 
Gebed: Genadige God, help my om te besef net hoe veel ek U as my Vader nodig het, en as u kind, die krag van u Gees. Dankie dat deur u genade U my deur Jesus Christus van sonde, angs en selfvernietiging bevry het. Amen