Ben Fourie 

Maar die Here sê vir hom: "Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel.” Handelinge 9:15, 2020-vertaling
 
Oral in die Evangelies en Handelinge lees ons van mense wat God spesiaal geroep en toegerus het om die boodskap van verlossing uit te dra. Van hulle is Paulus seker een van die heel bekendstes.
 
Hy was 'n Jood afkomstig uit Selisië, en is opgevoed in die beste tradisies van die Joodse volk. As Fariseër het hy 'n grondige kennis van die Ou Testament gehad en homself uiters streng by die voorskrifte van die wet gehou. As afstammeling uit die stam van Benjamin het hy ook aan die elite behoort. Wat 'n CV, maar vir die werk wat Jesus vir hom in die oog gehad het, niks werd nie. Hy was so vasgevang in sy tradisies en die voorskrifte van die wet, dat hy 'n vervolger van die kerk geword het. Gaan lees maar die eerste verse van Handelinge agt. Hy het die gemeente probeer uitroei en by mense se huise ingestorm en mans en vrouens uitgesleep en hulle in die tronk gegooi.
 
Voordat God hom kon gebruik, moes daar eers iets drasties gebeur. Dit gebeur met sy bekering op die pad na Damaskus. Toe die Here vir Ananias stuur om na Paulus te gaan, het hy beswaar gemaak omdat hy gehoor het hoe laasgenoemde die kerk vervolg het. Maar die Here sê vir Ananias: “Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra.”
 
Paulus kry net hierdie een opdrag – vertel vir almal van My – en dit is presies wat hy vir die res van sy lewe gedoen het. Vergete was die tradisies en streng onderhouding van die wet wat eers so belangrik was, vergete was die “dreigemente en moord” wat hy voorheen teen die kerk aangeblaas het.
 
Ons kan nie almal Paulusse wees nie, en ek weet nie of ek kans sou sien vir sy lewe nie. Maar God het ons elkeen beslis uitgekies om vir almal van Hom te vertel. Dit kan elkeen van ons wel doen. Dalk nie op die voorpunt van die groep nie, maar miskien op 'n beskeie manier daar iewers in die bondel. Tog dra dit by tot die groei van die kerk al is dit bietjie vir bietjie, en so hoor die wêreld wie God is.
 
Gebed: Ons dank U dat ons die afgelope maand kon hoor hoe u kerk heel aan die begin besig was met net een ding. Help ons elkeen om vandag iewers vir iemand van U te vertel. Amen