Ben Fourie 

Maar ons glo dat ons op dieselfde manier as hierdie mense deur die genade van die Here Jesus gered word. Handelinge 15:11, 2020-vertaling
 
Die jong kerk was besig om haar voete te vind, maar soos dit maar in die lewe gaan, het alles nie sommer gladweg verloop nie. Nadat Petrus vir Cornelius besoek het, word hy by sy terugkeer in Jerusalem deur die ander apostels en broers voor stok gekry. Hulle beskuldig hom dat hy by onbesnede mans aan huis was en saam met hulle geëet het. Nadat Petrus hulle uitvoerig vertel het hoe alles gebeur het, “het hulle geswyg en God verheerlik en gesê ‘So het God dus ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.’” (Handelinge 11:18) Dit baan die weg vir 'n volskaalse uitreik na die heidene en 'n jaar of wat later begin Paulus en Barnabas met die eerste sendingreis wat aanvanklik op Jode in ander lande gemik was, maar uiteindelik ook by die heidene uitgekom het.
 
So vorder die evangelie na Ciprus, Perge, Antiogië in Pisidië, Ikonium, Listra en Derbe. Met hulle terugkeer het hulle weer die gemeente in Antiogië besoek. Dit was ook die plek waar die gelowiges vir die eerste keer Christene genoem is. Deur die krag van die Gees het die kerk vinnig uitgebrei, maar mens kan amper nie glo dat daar mense was wat 'n stok in die wiel wou steek nie. Sekere broers uit Judea het steeds daarop aangedring dat die gelowiges uit die heidene ook soos die Jode besny moes word, anders kon hulle nie verlos word nie. Verlossing deur Jesus se soenverdienste aan die kruis was vir die broers nie genoeg nie, die mens moes ook 'n sê in die saak hê.
 
Die geskil loop uit op 'n vergadering in Jerusalem waar daar finaal besluit is “Die Heilige Gees en ons het daarom besluit om geen verdere las op julle te lê nie ...”(Handelinge 15:28). Hierdie besluit sou een van die heel belangrikste wees wat die kerk van alle tye ooit sou neem. Jesus alleen. Niks verdienste van my kant af nie. Net God se genade kan 'n mens red.
 
Gebed: Ek dank U o Heilige Gees dat U soveel eeue gelede in Jerusalem die kerk gelei het om te erken dat net God my kan red. Nou hoef ek geen toets te slaag nie. Jesus het aan die kruis reeds vir my volpunte behaal. Ek dank U. Amen