Ben Fourie 

Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede. Handelinge 2:42, 2020-vertaling
 
Gister het ons gesien dat die krag wat die kerk deur die eeue gedra het van God self af kom, maar dwarsdeur die boek van Handelinge loop daar ook 'nverdere belangrike storie. Die gelowiges van daardie eerste dae en weke het nie agteroor gaan sit en gewag het dat dinge moet gebeur nie. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die beoefening van hulle geloof. Die teksvers noem vir ons vier dinge waarin die gemeente volhard het en ek wil dié woord beklemtoon – volhard. Ons gaan die volgende paar dae afsonderlik na elkeen kyk.
 
In die eerste plek volhard hulle in die leer van die apostels wat toe nog mondelings oorgedra is. In vandag se taal sal ons sê dat om in die leer van die apostels te volhard, beteken om volgens God se Woord te leef, maar dit is nie so eenvoudig soos wat dit klink nie.
 
Die woord “post-modernisme” is eintlik al baie ou nuus in 'n wêreld met kunsmatige intelligensie, ChatGPT en baie meer radikale denksisteme, maar kom ons gebruik dit maar by gebrek aan iets beters om die nuwe denke te beskryf. Mense is nie meer tevrede met net een antwoord op 'n vraag nie en veral ook nie tevrede met net een uitleg van 'n Bybelteks nie. Die pastoor of dominee of priester se uitleg is vir baie mense lankal nie noodwendig korrek nie, maar as ons elkeen maar die Bybel na ons eie smaak wil uitlê, is daar ook 'n groot probleem.
 
Ons beskou die lewe en die wêreld rondom ons grootliks vanuit 'n perspektief wat deur baie invloede geskep word. Hoe en waar ek gebore is en grootgeword het, my gesin van oorsprong, bevolkingsgroep, tradisies, godsdiens, ensovoorts, bepaal hoe ek die wêreld sien. Ons interpreteer ook die Bybel vanuit hierdie perspektief. Die eerste gelowiges het volhard in die leer van die apostels, en nie elkeen op 'n eie spoor geloop nie. Dit was hulle behoud. Paulus moes later dikwels die gemeentes aanspreek wanneer hulle weggedwaal het van hierdie leer, want dit sou die ondergang van die nuwe geloof en die jong kerk beteken het.
 
Die kerk is nie altyd reg nie, dit het die geskiedenis al bewys. Tog, as ons as 'n eenheid van gelowiges bly by die suiwer leer van God se groot genade, Christus se verlossingswerk en die teenwoordigheid van die Heilige Gees soos wat die Woord ons leer, is ons nog op die regte pad van die eerste klein gemeente in Jerusalem.
 
Gebed: Leer my Heer u regte weë, wys die regte pad my aan. Amen