Ben Fourie 

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” Handelinge 1:8, 2020-vertaling
 
Ons vier later die maand Pinksterfees, die fees wat ons steeds sien as wegspringplek vir die kerk in die wêreld. Die ontstaan van die kerk is nie mensewerk nie, maar mense vorm 'n onlosmaaklike deel daarvan en heel aan die begin is daar net 'n handjievol van hulle. Wanneer hulle iemand in Judas Iskariot se plek kies, was daar maar honderd-en-twintig gelowiges bymekaar. Hulle het vinnig vermeerder, want op Pinksterdag alleen het daar drieduisend tot bekering gekom. Ons lees verder in Handelinge 2:47 dat God elke dag nog verlostes by die gemeente gevoeg het. Tog was dit regtig maar 'n baie klein groepie op wie se skouers die taak gerus het om tot aan die einde van die aarde met die boodskap van die evangelie van Jesus Christus te gaan.
 
Wie is hierdie mense van wie soveel verwag is? Gewone mense soos ek en jy. Vissermanne, Jesus se broers wat net soos Hy waarskynlik ambagsmanne was, vroue wat Jesus gevolge het, waaronder ook Maria Magdalena uit wie sewe duiwels gedryf is en ja, selfs 'n tollenaar. In Handelinge 4:13 word Petrus en Johannes “ongeleerd en leke” genoem en ook Paulus praat later van die gelowiges in Korinthe as “... nie baie wyses, nie baie invloedrykes of mense van adellike afkoms nie” ( 1 Korinthiërs 1:26). Tog groei daar uit hierdie groepie doodgewone mense 'n kerk wat na tweeduisend jaar nog tot in die uithoeke van die aarde bestaan.
 
Wat is hulle geheim? Die woord “kerk” soos ons dit ken, kom waarskynlik van die woord "kuriake" wat letterlik beteken “om aan die Here te behoort”. Hierdie groep mense van die eerste gemeente in Jerusalem het aan God behoort. Jesus het hulle elkeen geroep en hulle elkeen gesalf met die Heilige Gees. Dit is waar hulle krag vandaan gekom het en dit is waar ons krag vandag nog vandaan kom. Om liggaam van Christus op aarde te wees, is juis daar waar mense, ja ook ek en jy, aan Jesus gebind word deur die wonderwerkende krag van sy Gees.
 
Gebed: Hoe kan ons elke dag genoeg dankie sê dat U ons deur die Gees styf aan U vasbind. Amen