Ben Fourie

Want Christus het nie 'n mensgemaakte heiligdom, 'n nabootsing van die ware een, binnegegaan nie, maar die hemel self, om nou ter wille van ons voor God te verskyn. Hebreërs 9:24, 2020-vertaling (Dit sal goed wees as u die hele hoofstuk kan lees.)
 
Die tempel met sy Allerheiligste was vir die Jode die middelpunt van hulle godsdiens en omdat hulle godsdiens, kultuur en politiek onlosmaaklik met mekaar verweefd was, ten diepste die middelpunt van hul bestaan. Nou sê die Hebreër skrywer dat dit wat vir die Jode so heilig was, ook net 'n mensgemaakte iets is. Met die hemelvaart het Jesus in die ware heiligdom ingegaan, die hemel self, God se ware woonplek.
 
Wat 'n geweldige stuk verlossingsgeskiedenis is daar nie in hierdie hoofstuk saamgevat nie. Vanaf die tempel met die Allerheiligste as simbool van die aardse woonplek van God, tot by die hemel as ewige woonplek van God, loop daar 'n suiwer lyn deur. Hierdie lyn is onontbeerlik vir ons verstaan van hemelvaart en die begin van die kerk, want die lyn is Christus self en spesifiek as Verlosser.
 
Ons dink soms aan Christus se lewe in fragmente van die kerklike jaar met sommige belangriker as ander: geboorte, epifanie, lyding, dood, opstanding en hemelvaart. In hierdie brief wil die skrywer vir ons Jesus se hele lewe teken as een stuk verlossingswerk, nie fragmente nie, maar 'n eenheid. Vir ons verlossing is sy geboorte en hemelvaart net so belangrik as sy dood aan die kruis.
 
Ons teksvers druk dit baie mooi uit wanneer ons lees “om nou ter wille van ons voor God te verskyn”. Dood en opstanding sou niks wees as Jesus nie na sy opstanding na die hemel toe kon opvaar om daar namens ons voor God te verskyn nie. Hemelvaart is nodig om aan ons verlossing inhoud te gee. Die Bybel vir Almal sê dit baie mooi: “Christus het ingegaan om ons te help.” Sonder hierdie “hulp” sou ook die kerk as liggaam van Christus op aarde nie kon begin of voortbestaan nie.
 
Gebed: Jesus, ons dank U dat U vandag nog ter wille van ons voor God verskyn om vir elkeen van ons by Hom te pleit. Amen