Ben Fourie 

Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en 'n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem. Handelinge 1:9, 2020-vertaling
 
Dit is eers oor 'n week die herdenking van Jesus se Hemelvaart. Waarom dan nou al praat oor die Hemelvaart? Ek wil graag vra dat u vir 'n paar weke saam met my op die pad van die ontstaan en die groei van die kerk van Jesus Christus sal stap. Om dit te kan doen moet ons begin deur te kyk na die heel eerste tree op die pad van die kerk waar hemelvaart 'n groot rol gespeel het. Vroeër dae was Hemelvaart ook soos die ander belangrike kerklike feesdae 'n openbare vakansiedag, maar ongelukkig  is dit later laat vaar en baie gemeentes het glad nie eers meer 'n spesiale erediens op Hemelvaartsdag nie.
 
Tog is dit 'n uiters belangrike dag in die ontstaan van die kerk. Vanaf die geboorte van Jesus het God se raadsplan vir die mense van die nuwe verbond begin. Hierdie raadsplan het deur 'n kruis en 'n leë graf geloop en met Hemelvaart is 'n volgende episode in die plan geskryf. Ons leef nou in hierdie era, die kerk wat besig is met sy roeping en taak in die wêreld. Op sy tyd sal God ook die laaste episode skryf wanneer Christus weer kom.
 
Die Hemelvaart bring 'n totaal nuwe dimensie in die raadsplan. Voor die Hemelvaart het Christus self volgelinge gekies en hulle toegerus. Hy het geleer en gepreek, maar na die Hemelvaart word al die dinge aan sy kerk oorgelaat. Dit beteken nie dat Hy homself nou totaal onttrek het nie, Hy sit tog aan die regterhand van God vanwaar Hy sy kerk regeer.
 
Sy volgelinge het ten spyte van alles wat gebeur het en alles wat hulle beleef het, nog steeds gehoop dat Hy 'n nuwe aardse koninkryk vir Israel sal oprig. Jesus stel nou ook hierdie wanopvatting reg. Die kerk is nie daar om aardse koninkryke te vestig nie, maar om die koninkryk van God te laat kom. Daarom Jesus se opdrag om die hele wêreld te evangeliseer, 'n opdrag wat nog steeds die eerste en grootste taak is vir elkeen van ons wat bely dat ons 'n Christen is.
 
Gebed: Maak ons asseblief weer daarvan bewus van hoe nodig dit vir ons elkeen is, maar ook vir u kerk, dat U na die hemel opgevaar het. Amen