Imogen Campbell 

“Josef is 'n boom wat vrugte dra, 'n vrugteboom by die fontein, sy takke groei oor die omheining. Dié wat met pyl en boog skiet, val hom aan, hulle is baie en hulle is sy vyande. Maar hulle boog misluk elke keer, hulle sterk arms bewe, want die magtige God van Jakob gryp in, die Rots van Israel beskerm hom. Die God van jou vader sal jou help, Josef, die Almagtige sal jou seën, Hy seën jou met reën uit die hemel, met water diep onder die grond uit, met moeders wat hulle kinders voed, met baie kinders. Die seëninge wat jou vader gegee het, is sterk, sterker as dié van die ou-ou berge, as die kosbaarhede van die heuwels wat altyd daar is. Genesis 49:22-26, 1983-vertaling
 
Een van Jesus se Ek is-stellings is dat Hy die ware wingerdstok is. (Johannes 15:1) Soos Josef, Jakob se geliefde seun, is Jesus ook vir silwerstukke verkoop, soos Josef het hulle sy klere uitgetrek en Hy is geslaan. In Jesus se geval is sy liggaam stukkend geslaan, terwyl sy bloed aan die mantel gekleef het. Maar meer oor Josef.
 
Josef was 'n dromer wat bestem was om 'n heerser in Egipte te word. Hy het sy familie geïrriteer deur vir hulle van die drome te vertel. Selfs sy pa het hom by geleentheid daaroor aangespreek, maar dit tog onthou. Uit die teks kan 'n mens aflei dat Josef ietwat van 'n nuusdraer was en dat sy broers hom gehaat het.
 
Hulle het besluit om die saak in eie hande te neem en van die verwaande jongeling ontslae te raak. Eendag het hulle hulle kans gekry en hom as 'n slaaf verkoop. Hulle het hulle pa vertel dat Josef moontlik deur 'n wrede dier aangeval is en so aan sy einde gekom het. Hulle het sy kleurvolle kleed gevat en dit in bloed gedoop. Harteloos van hulle en Jakob se hart was gebreek.
 
Na die verloop van 'n lang tyd, het God hulle met hulle sonde gekonfronteer. Hongersnood het hulle na Egipte gedryf, waar hulle, sonder dat hulle geweet het, voor die een wat hulle as 'n slaaf verkoop het, gebuig het. In Genesis 42 word die verhaal vir ons beskryf. Hulle beleef 'n aantal haakplekke en skryf dit toe aan die volgende: “Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Nou sit ons met dieselfde angs." Toe sê Ruben vir hulle: “Ek het julle mos gesê julle moet julle nie aan die kind vergryp nie. Maar julle wou nie luister nie, en daarom word sy dood nou op ons gewreek.” (Genesis 42:21-22)
 
Dit is interessant hoe sonde, soos die waarheid, die geneigdheid het om uit te kom wanneer 'n mens dit die minste verwag. Weer eens hang die lot van 'n jonger broer in die weegskaal, 'n bekommerde vader voel hopeloos en die ander broers kry die kans om dinge reg te stel.
 
Ek glo dit was nodig want God wou hierdie familie seën, Hy wou Josef onderhou en die pyn van die verlede genees.
 
Is daar dinge wat jy verkies om in die verlede te laat? God het miskien ander planne. Neem dit na die Here in gebed.
 
Gebed: Dankie Here dat die wete dat U ons harte kan genees ons vertroos en dankie dat U gebroke families weer heel kan maak. Dankie dat deur u genade daar altyd hoop is en dat daar in die strale van die son van geregtigheid altyd genesing is. Amen