Benescke Janse van Rensburg 

Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie ...Jesaja 54:17a, 1983-vertaling
 
’n Paar dae gelede sien ek ’n videogreep op sosiale media van ’n slang en muis in ’n glashok. Die muis is duidelik in die hok gesit as middagete vir die slang. Wat my egter opval is die muis se onverskrokke doelwit om nie gevang te word nie. Hy dans en spring oral rondom die slang terwyl die slang hom volg. Duidelik “koek” die slang se lyf sonder dat hy dit besef.
 
Dan, in die oomblik waar die slang na die muis mik en pik, beland sy tand in sy eie lyf. Die slang skarrel rond voordat die videogreep eindig.
 
Soms is ons soos die muis in die hok wat aanvalle van alle kante in ons eie lewens moet afweer – in die werkplek, in die huis, uitdagings met ’n kind, ’n finansiële verknorsing. Ons lees immers in 1 Petrus 5:8 dat die vyand soos ’n brullende leeu rondloop en soek na areas in ons lewens om ons op aan te val.
 
Die goeie nuus is dat God ons beskerm en selfs die slegte planne van die vyand of mense om ons, kan omdraai in iets goed vir ons. In Jesaja 54:17 lees ons: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.”
 
God sorg vir ons. Hy beskerm ons. En Hy is steeds in staat om ons skotvry te laat wegstap van situasies wat onregverdig na ons kant toe kom! Sterkte.
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U my beskerm. Ek bring (noem jou uitdaging) na U toe. Neem die situasie in u hande en wees my asseblief genadig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
Sien die video:
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewer of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur dit gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.