Benescke Janse van Rensburg

Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. ...  1 Petrus 3:9a, 1983-vertaling
 
Die konflik tussen Rusland en Oekraïne is reeds vir langer as 700 dae aan die gang. Aan die begin van die jaar het Rusland per ongeluk een van sy eie dorpe, Petropavlovka in die Voronezh-streek naby Oekraïne gebombardeer. Dit was nie die eerste keer dat Rusland verkeerdelik ’n aanval op sy eie grondgebied geloods het nie. In April verlede jaar het ’n Russiese oorlogsvliegtuig per ongeluk ’n bom op sy eie stad Belgorod, naby die grens met Oekraïne, laat val wat ’n ontploffing veroorsaak het.
 
Dít is wat in oorloë gebeur – foute sluip in. In ons lewens gebeur dieselfde. Wanneer iemand ons te na kom, oor ons skinder of ons leed aandoen, is ons geneig om te voel dat ons alle reg het om terug aan te val, terug seer te maak en ons vyand terug te betaal vir wat hy of sy aan ons gedoen het. Die gevaar met hierdie “terugbetaling”, is dat dinge soms skeefloop en dat ons op die einde self meer skade aan onsself as aan die vyand doen.
 
In 1 Petrus 3:9 lees ons immers: “Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met 'n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.” Ook in Romeine 12:17,19: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. ... Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.”
 
Voel jy asof jy kwaad met kwaad wil vergeld? Kom ons laat die oordeel aan God oor en vra Hom om ons met sy vrede te vul wat alle verstand te bowe gaan. Só red jy jouself dalk van skade waaroor jy later gaan spyt wees. Sterkte.
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my lewe. Ek bring vandag die situasie na U (noem wat dit is wat jou pla). Help my asseblief om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar om die kwaad met die goeie te oorwin. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
Sien ’n foto van aanval in Rusland
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewer of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur dit gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.