Vers n dag - 29 Februarie 2012
[Het jy van die huidige reeds gehou? Stuur gerus vir ons terugvoer na
DAG 38: BEGIN NUUT OM SY WIL VIR JOU LEWE TE SOEK
Deur Benescke Janse van Rensburg
In die weermag was ’n jongman wat gereeld deur die bevelvoerder en troepe afgekraak en verneder is omdat hy ’n verhouding met God gehad het. Op ’n dag besluit die bevelvoerder om die jongman die grootste vernedering denkbaar voor die troepe te gee. Hy roep die man en oorhandig aan hom die trok se sleutels om dit voor in die ry geparkeerde motors te gaan parkeer – wetend dat die jongman nie kan bestuur nie.
Op die jongman se reaksie dat hy nie kan bestuur nie, het die bevelvoerder gelag en minagtend geantwoord: “Nou waarom vra jy nie jou God vir ’n wonderwerk nie?” Die jongman het die sleutels van die trok gevat en biddend daarheen gestap. Hy het geweet dat God hom kon help – en ook dat Hy selfs dié situasie kon gebruik om sy Naam te verheerlik.
Die man het in die trok geklim, dit aangeskakel en tot die verbasing van die bevelvoerder en troepe die trok netjies gestop waar die bevelvoerder dit wou hê. Toe hy uitklim, was die meeste van die troepe in trane. “Ons wil jou God dien,” het een hardop gesê. Die bevelvoerder, wat self aangedaan was, het na die trok gestap, die enjinkap opgelig en aan die troepe gewys dat daar nie eens ’n enjin in die trok was nie. Hierop het die jongman geglimlag voordat hy nederig gesê: “Sien julle, die God wat ek aanbid kan die onmoontlike moontlik maak. Hy kan selfs lewe blaas in iets wat nie eens bestaan nie!”
Wat het jy vandag in jou lewe nodig? Dapperheid? Guns? ’n Deurbraak in ’n saak wat vir jou onmoontlik lyk? Luister dan weer na die woorde in Mattheus 6:33: “. . . soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Onthou, vir die Israeliete het God ’n pad deur die Rooi See gemaak toe die Egiptenare hulle van agter wou aanval. Vir Ester het God guns gegee toe sy by die koning vir die Israeliete se oorlewing moes gaan smeek. Vir Gideon het God bonatuurlike dapperheid gegee om met net 300 manskappe teen ’n oormag te gaan veg. Vir Daniel het Hy die leeus se bekke gesluit. Vir Sadrag, Mesag en Abednego het Hy hulle uit die vuuroond gered. En op die Berg van Karmel het God vir Elia vuur gestuur om aan die profete van Baäl te demonstreer dat Hy die enigste lewende God is.
Niks is vir God onmoontlik nie. Hy kan jou help. Begin nuut om sy koninkryk en geregtigheid te soek en jy mag verbaas staan oor wat Hy vir jou in 2012 kan byvoeg! Sterkte.
Vader God, baie dankie vir u goedheid en ewige trou aan my. Lei my asseblief daagliks om selfs nog meer bewus te word van u teenwoordigheid in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
NOTA VAN DIE SKRYWER:
Baie dankie vir elke getuienis en e-pos met terugvoer wat ek gedurende die afgelope twee maande ontvang het. Dit het my geweldig geïnspireer om te sien waar God besig is om te werk.
Dankie ook vir die ondersteuning met my nuwe boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke. Die addisionele materiaal vir die boek behoort teen die einde van die week op my webwerf (www.benescke.co.za) beskikbaar te wees.
Van môre af, is ’n ander inspirerende skrywer aanstuur van sake met die dagstukkies. Ek skryf weer later die jaar. Tot ons weer ontmoet, sterkte! Benescke
WOORDFEES OP STELLENBOSH: Kom luister gerus Donderdag, 8 Maart 2012 om 14:00 by die Erfurthuis in Ryneveldstraat op Stellenbosch wanneer Benescke Janse van Rensburg en skrywer Helana Olivier oor die skryf van getuienisverhale gesels. Toegang is gratis.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.