Vers n dag - 28 Februarie 2012
DAG 37: GOD WIL SY GOEDHEID AAN ONS DEMONSTREER
Deur Benescke Janse van Rensburg
[AGTERGROND: Ek deel graag drie lesers se getuienisse van God se grootheid.]
Leser 1, Elize: “Vir 23 jaar lank was my man ’n drankverslaafde. Dit het baie probleme in ons huwelik veroorsaak. Oor die jare was my man by verskeie rehabilitasiesentrums, maar dit het telkens gevoel asof dit die probleem net vererger het. Ek kon nie verstaan hoekom so ’n goeie mens sy lewe so wou weggooi nie.
In Desember 2001 het ek uit die huis getrek en 25km buite die dorp gaan woon. Ons seun, wat in matriek was, en ons dogter, het steeds by my man gewoon. Een oggend net na 05:00 kry ek ’n telefoonoproep van my dogter was sê dat my man in die hospitaal opgeneem is nadat hy begin bloed opgooi het.
Ek het my na die hospitaal gehaas en my man, weens sy bloedverlies, vaalgrys in die bed gekry. Volgens die dokters het sy lewe aan ’n draadjie gehang en kon hy gesterf het as ons kinders hom ’n halfuur later gekry het.
Ek het by hom gaan sit en hom gevra of hy nie Koning Jesus as hoof van sy lewe wou aanstel en Hom wou vra om hom met sy probleem te help nie. My man het dit gedoen!
God het my man se lewe kom red en ons huwelik herstel. Op 6 Maart vanjaar sal my man 10 jaar lank skoon van alkohol wees! Al die eer gaan aan God.”
Leser 2, Pieter: “Ek en my vrou was onlangs by goeie vriende van ons se troue in Chrissiesmeer, Mpumalanga. Die seremonie het in ’n pragtige dennewoud buite die dorp plaasgevind. Tussen al die opwinding van die dag het die bruid se verloofring en troupant verlore geraak.
Die bruidegom en sy familielede het verwoed na die ringe gesoek, maar die paartjie moes later sonder die ringe trou. Ná die seremonie het die familie en vriende weer gebid dat God hulle sou lei om die ringe te vind. Hulle het weer gesoek, maar steeds niks gevind nie.
Daardie volgende dag is ek en my vrou terug na die woud om daar te gaan foto’s neem. Ek het ’n vreemde voorgevoel gehad dat ons die ringe sou vind.
By die woud opgedaag het my vrou haar kamera opgestel en die landskap begin afneem. Ek het ’n lang stok opgetel en oor die gesnyde gras voor die woud begin vee. Skaars drie minute later het ek iets in die gras sien blink. Dit was Cornelia se verloofring! God het ons gehelp om beide die ringe terug te vind!”
Leser 3, André: “Toe ons seuntjie een jaar oud was, het hy ernstig siek geword. Ons het hom na die dokter geneem wat hom dadelik in die hospitaal wou opneem. Ons het hom egter verseker dat ons by die huis selfs beter na ons seun kom kyk. Die dokter het ingestem dat ons hom kon huis toe neem op voorwaarde dat ons hom die volgende oggend moes terugneem vir ’n opvolgondersoek.
Daardie aand nadat ons seuntjie aan die slaap geraak het, kon ons hoor hoe hy met moeite asemgehaal het. Ek en my vrou het saam langs sy bedjie gekniel en vir God se genade gepleit. In geloof het ons daarna opgestaan, die deur agter ons toegetrek en by ons 9-jarige dogtertjie gaan sit. Toe ons later die aand weer by ons seuntjie gaan inloer, was ons verstom. Hy het meteens heeltemal normaal asemgehaal! Toe ons hom die volgende dag na die dokter neem, kon hy nie glo dat dit dieselfde seuntjie is nie. God het ’n wonderwerk gedoen –en dit omdat ons volkome op Hom vertrou het!”
Elize, Pieter en André is reg. God is goed en Hy wil sy goedheid en liefde aan ons demonstreer. Luister weer na die woorde in Psalm 100:5: “. . .die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.”
Kom ons hou ons oë oop vir wat God vandag in en deur ons lewens wil doen om sy goedheid aan ons te wys! Sterkte.
Vader God, baie dankie vir u goedheid en ewige trou aan my. Lei my asseblief daagliks om selfs nog meer bewus te word van u teenwoordigheid in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk gerus op die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy na foto’s van bogenoemde lesers.
WOORDFEES: Kom luister gerus Donderdag, 8 Maart 2012 om 14:00 by die Erfurthuis in Ryneveldstraat op Stellenbosch wanneer Benescke Janse van Rensburg en skrywer Helana Olivier oor die skryf van getuienisverhale gesels. Toegang is gratis.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.