Fanie Richter 

God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”  Jakobus 4:6b, 1983-vertaling
 
Hoe voel jy wanneer iemand teen jou stamp of stadig voor jou beweeg? (Terloops, dit gebeur meesal per ongeluk of onwetend.) Maar word jy dalk vies, of sommer kwaad? Het jy dit nog nooit (per ongeluk) teenoor iemand anders gedoen nie?
 
Ons vererg ons baiekeer, selfs bloedig, oor sulke voorvalle en bly soms lank ontstig daaroor – en met gedagtes wat verder versuur. Ons gesindheid is dan in werklikheid afstootlik.
 
Toets daarteenoor gerus jou belewenis wanneer jy in sulke situasies eerder reageer met ’n glimlag en “Geen probleem nie” of “Alles reg”, veral wanneer die persoon uiteindelik uit jou pad beweeg en miskien selfs om verskoning vra (en dalk ook terug glimlag op jou mooi reaksie).
 
Daardie innerlike ‘goedvoel’ belewenis is die direkte vrug van nederigheid en ’n bietjie genade teenoor mekaar. Dis ook een van die dieper aspekte van Jesus se liefde, nederigheid en wysheid toe Hy die dissipels se voete gewas het, waaroor Hy in Johannes 13:15 sê: “Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.” Deur met sy gesindheid die waarde en die mooie in ander te erken, skep dit innerlike vriendelikheid, vrede en selfs vreugde, in plaas van selfgefokusheid, eiegeregtigheid en selfsug.
 
Jesus sluit af in Johannes13:17: “Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.” Dit maak sin – as jy dit toepas en daarna die effek daarvan beleef. Dis ’n seëning.
 
In Jakobus 4:6b lees ons: “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”
 
Gebed: Liefdevolle Here, laat u Heilige Gees asseblief u gesindheid gedurig in my gees lewend hou sodat my reaksies en optrede u lig, liefde, vrede en vreugde weerspieël – in die Naam van Jesus Christus. Amen