Fanie Richter 

“As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” 1 Johannes 1:9, 1983-vertaling
 
“Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie.” Matteus 6:15, 1983-vertaling
 
’n Mens kan nie saam met die Here en as deel van God se koninklike familie lewe sonder sondebelydenis en vergifnis nie – vergifnis deur Hom, en vir mekaar.
 
As jy dink dat jy nie vergewe kan word nie – moenie in jou menslike terme oor God dink nie. Ons mag Hom nie onderskat nie! Dink aan Petrus wat op sy knieë voor Jesus neergeval en uitgeroep het, “Gaan weg van my af, Here, want ek is ’n sondige mens” (Lukas 5:8), hoe hy daarna leier onder die dissipels geword het, en gefaal het tydens die gevangeneming en kruisiging van Jesus. Dink aan wat hy weer daarna geword het – in die vroeë kerk en met sy briewe in die Bybel. Dink ook aan Paulus wat aan homself gedink het as die grootste sondaar – en deur Christus verlos, vergewe en gestuur is.
 
Nog ander – Saggeus, Levi, die Samaritaanse vrou by die put, die besetene van Gadara, en vele meer – vrygemaak en vergewe sodat die mag van sonde nie die laaste sê oor hulle het nie!
 
Maar ons kan net waarlik vergifnis en vrede hê wanneer ons ook alle ander vergewe. (Lees Matteus 5:21-26)
 
Dink daaroor na ... Dink na oor jouself ... Bid om vergifnis en vergewe almal oor wie jy ontevrede is ... en volg die Here en Koning Jesus Christus, as versoende om saam met Hom in sy koninkryk geseënd en tot seën te leef. 

Gebed: Here, ek wy myself opnuut aan U. Maak dit asseblief waar in my lewe. In die Naam van Jesus Christus, Amen