Fanie Richter 

“Verder, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees –daarop moet julle julle gedagtes rig.” Filippense 4:8, 1983-vertaling
 
Met jou denke volg jy ’n roete na ’n eindpunt – ’n gevolgtrekking, besluit, oplossing, plan en daad. Dit beïnvloed en bepaal jou lewenspad en bepaal ook jou invloed op hulle rondom jou.
 
Dit laat my dink aan ’n vriend wat tydens ’n bergklimuitstappie ’n ‘moontlike’ alternatiewe roete terug wou volg – nie die enigste aangewese een nie – en êrens in die lang gras was daar niks meer onder sy voete nie! Sy liggaam is 50 meter ondertoe gevind. Baie mense is tragies geraak daardeur. Maar al sou daar andersins nie ’n dodelike hoogte gewees het nie, sou dit hulle steeds vir die res van hul lewens nadelig geraak het.'
 
Soms word jy beïnvloed om op ’n sekere wyse te dink, reg of verkeerd, positief of negatief. Dalk het dit al deel van jou persoonlikheid geword om negatiewe gedagtes, met verkeerde afleidings, te bedink. Jou lewensroete het daarmee te maak. Daarteenoor belig God vir jou die regte roete. Jy moet egter keuses maak en besluite neem oor die roete. Soms moet daar geskoffel en uitgekap word om ‘duwweltjies, ander onkruid en indringerplante’ op jou roete te verwyder.
 
Jy kan na goeie raad luister. Christus het gesê dat die Heilige Gees, die Gees van waarheid, ons in alle waarheid sal lei. In die Gees en Lig van die Here kan jy hierdie roete volg wat Paulus in Filippense 4:8 beskryf: “Verder, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”
 
Hoe dink jy sal hierdie roete vir jou en ander mense beïnvloed?
 
Gebed: Here Jesus Christus, laat u Gees altyd my gees en denke vernuwe en beheer sodat ek in u lig en waarheid oor alles sal dink, besluit, praat en daarvolgens sal doen. Amen