Fanie Richter 

Maar U verwag opregtheid diep in 'n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. Psalm 51:8, 1983-vertaling
 
Wanneer ons die Bybel lees en luister na God se Gees moet ons verstaan dat Hy ons daardeur wil herskep – oor vorm – en lei.
 
Dink mooi daaroor – ons doen dit mos omdat ons wil hê dat Hy ons moet ‘reghelp'. Die Woord sê telkens dat God van sy kant af ons gees, gedagtes en dade wil nuutmaak en oor en deur ons in sy koninkryk wil regeer.
 
“...Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê … ” (Jeremia 31:33) “...Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” (Hebreërs 4:12) “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”. (Filippense 4:7)
 
Ons eie, soms onstuimige, gedagtes moet voor God tot rus kom. Dawid sê in Psalm 51:8: “U verwag opregtheid diep in ’n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil hê dat ek moet lewe.” Stilword en oordenking van sy Woord is hierin baie noodsaaklik. Toe die Psalmdigters toegelaat het dat God se Woord in hulle werk (Psalm 1:1-3; 119:55-56), daarop ag geslaan het en sodanig vreugde gevind het (Psalm 1:2; 119:15-16,55-56), kon hulle getuig dat dit seën bring. (Psalm 1:2; 37:3-5)
 
Daarom kon Dawid ook met nuwe fokus sê, “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind” (Psalm 131:1b-2a) Want die Here se gedagtes bly besig met ons – “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal ... en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.” (Psalm 139:17-18)
 
Gebed: Here, bly asseblief altyddeur besig met my en help my hoor, verstaan en U te gehoorsaam. Amen