Fanie Richter 

Hy moes deur Samaria gaan. … Jesus antwoord haar: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ’n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het ... Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”  Johannes 4:4,10,26, 1983-vertaling
 
Agter die skerms is die doelwit en verloop van hierdie gebeure reeds beplan en nou stel God dit in werking. Hy reël doelbewus ’n ontmoeting met die vrou. “Hy moes deur Samaria gaan.”
 
En asof sy weet dat hier iets vreemd begin afspeel, vra die Samaritaanse vrou om die rede agter Jesus se optrede: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?” (Johannes 4:9) Haar vraag oor die skeiding tussen Jode en Samaritane is egter vir Jesus van min belang. Hy konsentreer ook nie verder op sy eie vraag na water nie en gesels dadelik verder oor die belangrike dinge wat Hy by haar wil tuisbring – “wat God gee”, “wie dit is” wat met haar praat, en wat dit beteken.
 
Eintlik wil Jesus haar ook laat verstaan dat Hy geestelike dinge bedoel met die “lewende water” – die verlossing van sonde en dit wat daarmee gepaard gaan en dat God dit gee deur sy Seun wat Hy na die wêreld gestuur het, en dat ons Hom kan vra.
 
In breër verband is dit opvallend dat Jesus wat Homself by geleentheid die “brood van die lewe” genoem het (Johannes 6:35), Hom nooit die “water van die lewe” genoem het nie, maar wel sodanig na die Heilige Gees verwys het (Johannes 7:37-39). Wanneer ons hierdie water aanvaar het, sorg die Heilige Gees met die Woord van God dat daar nie weer ‘droogte’ in ons lewens hoef te wees nie, maar Godsvrug (vgl. Jesaja 58:11-12).
 
Gebed: Here, help my asseblief om altyd die “water van die lewe” te verstaan en die vrug te dra wat dit moet voortbring. En dankie dat dit ook vir my tot seën sal wees, deur u genade. Amen