Fanie Richter 

'n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop. Spreuke 16:9, 1983-vertaling
 
Jy weet soms nie meer hoe nie. Ons dink en glo ons doen die regte ding, maar loop ons vas.
 
Ons probeer baiekeer voor God uitloop. Soms mors ons baie tyd in ons pogings om vir onsself geleenthede te probeer skep en naam te maak. Maar God sê, “Ek is besig om iets groot te doen, en ek sal vir jou gee wat jy nie op jou eie kan vermag nie.”
 
Die Bybel leer dat God voor ons uitgaan – Hy wil dit so doen, vir ons. En soms loop sy pad anders as wat jy verwag, omdat Hy vooruit sien en weet dat jy nie alleen kan loop nie en nie op jou eie sal kan vorder nie. “Toe die farao die volk laat trek het, het God hulle nie die pad na die land van die Filistyne toe laat vat nie, hoewel dit die kortste was, want Hy het gesê: ‘As die volk in ’n geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe teruggaan.’ Daarom het God die volk met ’n ompad laat gaan” na die bestemming wat Hy vir hulle belowe het." (Eksodus 13:17-18a) Lees weer Spreuke 16:9.
 
Verder word daar telkens vir Israel gesê en belowe dat die Here vir hulle sal wys om die regte pad te volg al was hulle besig om die verkeerde een te kies. "... jy sal self sien dat Hy die Een is wat jou leer. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jesaja 30:20-21)
 
Lees gerus die hele gedeelte vanaf vers 12 tot 24 oor die Here se uitkoms. Kyk ook wat sê Jeremia 17:5-8.
 
Gebed: Here, ek is moeg gesukkel en gespartel om my eie weg te probeer oop kap en my eie koers te volg. Lei en onderrig U my asseblief volgens u plan in elke opsig en taak. Amen