Fanie Richter 

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou. Psalm 32:8, 1983-vertaling
 
Is jy onvergenoeg en selfs vies en kwaad oor iets in jou lewe?
 
Ek weet van ’n man wat vir 14 jaar nie meer deel van die Kerk was nie. Op ’n dag ontbied hy die predikant om openlik en reguit oor sy redes te praat. Na ’n paar minute se praat, bly hy skielik stil vir ’n paar sekondes en sê toe, “Met ander woorde ... ek was al die tyd ’n ‘simpel fool.’”
 
Eerder as om te bly wroeg, mag ons maar met ons twyfel en woelinge binne-in ons juis tot God nader, soos Johannes die Doper wat volgens Lukas 7:18-19 gevra het, “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” Dit help om eerlik en stil te gaan sit voor God om raad te vra en Hom in jou denke en gees in te nooi – om saam na die ‘toneel van oorsaak’ te kyk en jou te help met insig, begrip, onderskeidingsvermoë en hoe jy daarop moet reageer in die gesindheid van Christus Jesus.
 
Paulus skryf aan die Filippense, Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom” (Filippense 1:9-10a).Dink weer daaraan dat God se liefde en gedagtes groter is as ons s’n – en as ons onstuimige gevoelens. Lees gerus Psalm 32:8. Jesaja 30:20-21 sê ook van God, “Jy sal self sien dat Hy die een is wat jou leer. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”
 
Gaan kyk ook in 1 Konings 19 hoe die Here vir Elia uit sy angs, frustrasie en moedeloosheid begelei het en hom weer koers en doelgerigtheid gegee het.
 
Gebed: Heilige Here God, ek bely my frustrasie en verergdheid oor (noem dit). Help my asseblief om weer u stem bo myne te hoor en daardeur weer insig, begrip, onderskeiding, vrede en koers te kry. Amen