Fanie Richter 

“Kyk, Ek maak alles nuut.” Openbaring 21:5, 1983-vertaling
 
“Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” Jesaja 1:18, 1983-vertaling
 
“Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.” 2 Korintiërs 5:17-18a, 1983-vertaling
 
Het jy al alles probeer om ’n ‘kick’ uit die lewe te probeer kry, maar voel, “So what!?” Hier sit ek maar weer, en die vier mure om my en die stilte is nog soos altyd. Ek voel maar weer so alleen en leeg soos voor die partytjie. En mis die LEWE!
.
Of dink jy aan iemand vir wie jy as’t ware ‘geen hoop het nie’? In my jongdae het ek vir André (skuilnaam) geken – ongeveer 20 jaar oud en op die oog af ‘selfgemaak’, trots met sy roekelose lewe. Ek was net ’n vriend vir hom en het hom soms in my gebede onthou.
 
Ongeveer twee jaar nadat ek van werk verander en verhuis het, loop ek hom eendag op Johannesburg stasie raak – netjies en vriendelik, toe hy groet. Toe hy hoor dat ek die volgende jaar teologie gaan studeer, gryp hy my hand met ’n “Prys die Here!”, en begin vertel hoe die Here sy lewe begin nuut maak het deur ’n groepie Christene wat hom een Saterdagaand in die stad raakgeloop het terwyl hy êrens heen gestap het. ‘Ongelooflik!’ Laaste wat ek van hom gehoor het, was dat hy met hart en siel vir die Here leef.
 
God kan en wil dit ook vir jou en die persoon aan wie jy dink, doen, soos hy dit vir André – en ook vir my gedoen het. Raak stil voor Hom en stort jou hart voor Hom uit.
 
Gebed: Hemelse Vader, kom ontmoet asseblief vir my (of vir...) en maak nuut, volgens u wil, sodat ons u raad, vrede en liefde kan belewe – volgens u verlange en doel met ons. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen