Louise Gevers 

Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?
 
Hoe verlang ons nie na waarheid, genade en geregtigheid om in hierdie tyd van ongehoorde wetteloosheid in ons land te seëvier nie? Miga het geweet dat in Samaria en Jerusalem dit nodig was vir die mense en hulle leiers om hulle met hulle hele hart en verstand na God te wend.
 
God het dit baie duidelik gemaak dat Hy ontevrede was met sy volk. Die leiers was korrup, die mense is onderdruk en die slegte koning, Agas, het baie Israeliete verlei om nie langer God te aanbid nie, maar wel die heidense afgode wat hy oral in die land, selfs in die tempel, opgerig het. Geestelik was dit 'n donker tyd: geestelike verval het tot morele verval gelei, en God het Miga geroep om hom teen hierdie verkeerde dinge uit te spreek en God se naderende oordeel oor hulle aan te kondig.
 
Die Here het nie net basiese riglyne hoe om reg te lewe deur Moses in die Tien Gebooie uiteengesit nie, maar deur sy liefde het Hy ook regverdige vereistes vir elke lewensaspek uiteengesit – op godsdienstige en maatskaplike gebied en Hy het selfs reëls vir die mees obskure aangeleenthede verduidelik sodat elkeen se regte in ag geneem en regverdig mee gedeel kon word. (Eksodus, Levitikus en Deuteronomium)
 
Die leiers het dus geen verskoning gehad om nie God se opdragte te volg sodat reg en geregtigheid kon seëvier nie, maar hulle ontrouheid aan Hom het hulle ywer vir geregtigheid afgestomp en hulle het sy wette geïgnoreer.
 
Miga se waarskuwing was streng: Maar ek sê: “Luister tog, hoofde van Jakob, gesagvoerders van die huis van Israel! Is julle nie veronderstel om die reg te ken nie, julle wat die goeie haat en die slegte liefhet, julle wat die mense se velle van hulle afskeur en die vleis van hulle bene; julle wat my volk se vleis eet, hulle velle afstroop en hulle bene stukkend kap, hulle uitmekaarhaal soos in 'n pot, ja, soos vleis in 'n kookpot?” Dan sal hulle na die Here om hulp roep, maar Hy sal hulle nie antwoord nie. In daardie tyd sal Hy sy gesig vir hulle verberg omdat hulle optrede boos was. (Miga 3:1-4)
 
Leiers het nie die keuse om weg van God te leef en sy Wet te verwerp nie, en dit geld ook vir ons. Leef ons in lyn met die sonde verwerp ons in werklikheid die sorg van die Here. Soos die ongehoorsame Israeliete, word ons gewetes ook soms afgestomp en baie keer verwerp ons dan daardie wette wat vir ons ongerieflik is of ons pret bederf.
 
Maar mense wat die Here liefhet en getrou bly in moeilike tye, weet dat sy gebooie eintlik vryheid van sonde en skuld bring. Dit bemagtig ons want dit is perfek uitgewerk in die ondeurgrondelike wysheid van God. Die Wet van God is tot voordeel van almal en nie net vir 'n klein groepie nie.
 
En wat eis die Here van ons? Hy wil dat ons elke dag die pad nederig saam met Hom loop en Hom vra om ons die weg te wys. Hy wil dat ons ongeregtigheid erken en daarteen opstaan en ander altyd regverdig behandel. Hy wil ons inspireer sodat ons, net soos Hy, vriendelik en barmhartig teenoor almal sal wees.
 
Wanneer jy sukkel en oorweldig voel, onthou Klaagliedere 3:21-24: "Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom."
 
Gebed: Na U, Here, hunker ek. My God, op U vertrou ek; laat my tog nie beskaamd staan nie; laat my vyande nie oor my jubel nie. … Here, maak u paaie aan my bekend; leer my u weë. Lei my deur u waarheid (Psalm 25:1-2,4-5a) Amen