Louise Gevers 

Hulle hoor toe die geluid van die Here God wat in die tuin rondstap in die middagkoelte. Die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” Genesis 3:8-9, 2020-vertaling
 
Wegkruipertjie is lekker om te speel. Groot is die spanning wanneer die een wat soek naby jou wegkruipplek kom, en dan die groot blydskap wanneer jy uiteindelik gevind word.
 
Miskien is dit hoe die eerste mens en sy vrou gevoel het toe hulle vir God weggekruip het en sy stem gehoor het wat vra: "Waar is jy?" Maar die Here was nie besig om 'n speletjie te speel nie. Hy het geweet presies waar hulle is en wat hulle gedoen het, maar dit is sy aard om die mense wat Hy gemaak het te gaan soek en met hulle te praat, selfs in hulle sondige toestand.
 
Die vraag wat God vir Adam vra is dieselfde een wat ons dikwels gebruik wanneer ons iemand soek. Dit is belangrik om te besef dat die vraag nie altyd net verwys na waar 'n persoon hom fisies bevind nie, maar kan ook, soos in die geval van Adam, na 'n persoon se welstand verwys. Wanneer hy God hoor roep, is sy eerste instink om weg te kruip, 'n duidelike bewys van sy ongemak. Hy soek na sy eie spasie waar hy God kan uitsluit.
 
Kan ons met Adam se dilemma identifiseer?
 
Ons deel in die gevolge van Adam en Eva se ongehoorsaamheid aan God wat hulle nie net hulle noue verbintenis met Hom gekos het nie, maar ook hulle waardigheid. Ons weet dat ons almal naak voor God is en wat hulle gehoorsaamheid ons sou spaar. Ons identifiseer dus met Adam se ondervinding – met sy skuldgevoel – en ons raak ook ontsteld en, in stede van om na die Here toe te hardloop probeer ons om sy teenwoordigheid te vermy. En tog roep Hy steeds: "Waar is jy?" en wys sodoende dat Hy omgee.
 
Vanjaar se eerste Vers-'n-dag gebed wat oor 'n nuwe begin gehandel het, was: "Genadige Vader, open asseblief my oë om die nuwe dinge wat U in ons tyd doen, te kan sien en aanvaar. Verfris deur u lewegewende Gees die woestyn in my hart sodat ek elke dag met blydskap en in pas met U kan leef." Wend ons ons gereeld na Hom wanneer ons in hierdie uitdagende tye oorweldig voel en hulp benodig, of kruip ons weg en vergeet dat Hy omgee?
 
Ons het die Here nodig.
 
Wanneer ons bereid is om met God te wandel, skenk Hy aan ons wysheid en krag om te volhard. Hy hoor wanneer ons Hom aanroep en Hy het beloof: "Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg. Ek sal My deur julle laat vind,” is die uitspraak van die Here, “en Ek sal julle lot verander en julle bymekaarmaak uit al die nasies … " (Jeremia 29:13-14)
 
Waar bevind jy jou halfpad deur hierdie jaar?
 
Gebed: Genadige Vader, dankie vir u getroue liefde en dat U ons uit die duisternis na die lig roep. Amen