Louise Gevers 

Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.” Genesis 3:13, 1983-vertaling
 
Die Here spreek dit wat ons verkeerd gedoen het in sy eie tyd aan, ongeag wie ons is. Hoe ons reageer hang af hoe belangrik Hy vir ons is, en hoe ontvanklik ons vir sy Woord is.
 
In ons land is daar op alle vlakke toenemend bewyse dat "die slang mislei en mense geëet het", en dat God se standaarde om menselewens te beskerm geleidelik vernietig word. Hierdie selfbelang, korrupsie, ongeregtigheid en gierigheid gee aanleiding tot oorweldigende menslike lyding. Ons hoef slegs na radiogesprekke te luister en die dagblaaie te lees om onbetwisbare bewyse te bekom van die sonde wat ons van binne en buite onderdruk.
 
In die lig hiervan is God se vraag aan Eva steeds relevant vir ons. Elkeen moet ongehoorsaamheid bely, verantwoordelikheid aanvaar, en van selfbedrog bevry word om sodoende deur hierdie ervaring te kan groei en beter toegerus te word om in die toekoms weerstand te kan bied.
 
Ons weet nie of Eva met versoeking geworstel het voordat sy ten gunste van die verbode vrug God se opdrag verontagsaam het nie. Ons weet wel dat die Satan se gladde tong daarin geslaag het om haar te laat dink dat hierdie sonde goed, wenslik en skadeloos was – stel hy ooit die sonde anders voor – en dat sy daarby sou baat omdat "die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee". (Genesis 3:6)
"
Jakobus verduidelik: "Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood." (Jakobus 1:14-15) En Eva se keuse het op die dood uitgeloop – weggestuur uit die Tuin en van God geskei.
 
Nooit sou Eva haar die impak van haar sonde kon voorstel nie, en dit is ook waar wanneer ons sondig. Die slang met sy slinkse logika wat aanklank gevind het by hulle begeertes, is vandag nog net so slim. Hy verlei mense, vertroebel ons oordeel en is die oorsaak dat ons God, wat van die begin af ons beste belange op die hart dra, uitsluit wanneer Hy sê: "Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee … " (Psalm 32:8)
 
Ons kan voorgee dat dit wat God vir Eva gesê het nie op ons ook van toepassing is nie, of dat ons nooit soos sy sou geantwoord het nie, en so probeer om onsself te verskoon en iemand of iets anders te vind om te blameer. Deur te weier om dit wat ons verkeerd gedoen het te erken, word ons al hoe belangriker in ons eie oë, en gee vrye teuels aan ons begeertes en luste, wat saam met ons onwilligheid om verantwoordelikheid te aanvaar, die voortdurende verhaal van die mensdom se stryd teen versoeking, sonde en mislukking vertel.
 
Anders as Eva, weet ons dat Jesus vir die sonde van die wêreld gesterf het en dat ons ons sonde voor Hom kan bely en verniet vergifnis en die ewige lewe kan ontvang. Belydenis voorkom dat sonde ons harte verhard en dit maak ons meer ontvanklik vir die Woord van God.
 
Johannes skryf: "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1 Johannes 1:9)
 
Wat het jy nou gedoen?
 
Gebed: Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien." (Psalm 51:12-14) Amen