Ben Fourie 

“Die seun Samuel was in diens van die Here onder toesig van Eli. 'n Woord van die Here was seldsaam in daardie dae, geen visioene het voorgekom nie.” 1 Samuel 3:1, 2020-vertaling
 
Hoe tragies dat die woord van God kan skaars raak, ja waarlik seldsaam. 'n Mens is daaraan gewoond dat sommige kossoorte of wasmiddels of motoronderdele soms vanweë een of ander rede skaars raak. Dit val egter baie vreemd op die oor om le lees dat God se woord skaars was en daarmee saam ook visioene. In die verhaal van die jong Samuel sien ons hoe die Here na hom roep en wanneer hy antwoord, praat God met hom. 'n Visioen of gesig het gewoonlik gepaard gegaan met woorde en daarom hierdie verwysing na die seldsaamheid van beide woord en visioen.
 
Die rede vir hierdie skaarsheid was te vinde by diegene wat moes sorg dra dat die aanbidding van God nie verwaarloos word nie. Eli die priester, en sy twee priester seuns was hiervoor verantwoordelik. Ons lees dat Eli by die tempel gesit het, maar omdat die eerste tempel onder Salomo eers baie later gebou is, moet ons hier dink aan 'n gebou waarin die tabernakel gehuisves is. Hier moes die offerandes gebring word en al die rituele vir die aanbidding van God. Maar Eli se twee seuns was sleg en het verkeerd gedoen en alhoewel hy hulle berispe het, het hy verder niks gedoen om die godsdiens op vaste voet te plaas nie. Hy word selfs daarvan beskuldig dat hy die beste van die offers vir homself toegeëien het. Met sulke mense aan die roer van die land se godsdiens is dit geen wonder dat God se woord selde gehoor of gesien is nie.
 
As ons rondom ons kyk lyk dit dikwels ook asof daar ten spyte van ’n oorvloed Bybels weer ’n skaarste aan die woord van God in die wêreld is. Oorlog en korrupsie, sedeloosheid en materialisme en watter ondeugde nog, is oral sigbaar. Lees maar net jou koerant gereeld. Tog is daar elke Sondag in duisende kerke regoor die wêreld eredienste. Pastore en dominees en priesters bring gereeld die Woord aan mense, maar die woord het skraal geraak, want mense is so besig met hulle eie dinge dat hulle God nie meer elke dag hoor en sien nie. Die tyd het aangebreek dat ons weer soos die ou Hervormers sal sê: “Terug na die Woord.” Jy en ek is nou die priesters van die Nuwe Verbond en dit is ons verantwoordelikheid om te sorg dat God se woord nie seldsaam raak in ons omgewing nie.
 
Gebed: Here, ons wil vandag bid dat U ons so sal gebruik dat u woord nie seldsaam in ons land sal raak nie. Amen