Ben Fourie 

Nee, die woord is baie naby jou – in jou mond en in jou hart, sodat jy dit kan uitvoer. Deuteronomium 30:14, 2020-vertaling
 
“’…Hier by jou is die woord, in jou mond en in jou hart’ dit is die woord van geloof wat ons verkondig”. Romeine 10:8
 
God se volk staan op die drumpel van die Beloofde Land. Moses is vir oulaas besig om dit wat die Here op sy hart gelê het aan die volk oor te dra. Hy praat oor die vernuwing van die verbond, die gebooie en vaste voorskrifte van die Here wat, indien dit nagekom word, sal verseker dat sy seën in die nuwe land op hulle sal rus. As 'n mens al die gebooie en voorskrifte in die boek lees, lyk dit na 'n haas onbegonne taak om dit alles te onderhou en presies daarvolgens te lewe.
 
Tog lees ons dat God reeds in Deuteronomium 30:11 sê dit is nie so moeilik nie en in die volgende verse gebruik Hy pragtige beeldspraak om dit te bevestig. Hulle hoef nie anderkant die see of in die hemel te gaan soek nie, inteendeel die oplossing is baie naby, ja so naby dat dit reeds in hulle mond is sodat hulle die gebod kan uitspreek en in hulle hart dat hulle dit ook kan uitvoer. In vers sestien word die geheim opgelos: “Wat ek jou vandag beveel, is om die Here jou God lief te hê.” Dit begin dus nie by voorskrifte nie, maar by liefde vir God. Uit hierdie liefde spruit dan die begeerte om volgens sy voorskrifte te leef.
 
Hierdie boodskap is so belangrik dat Paulus die teks aanhaal wanneer hy 'n brief aan die gelowiges in Rome skryf, maar nou is dit wat in Moses se tyd nog ver in die toekoms gelê het, reeds voltrek. Paulus gebruik ook Deuteronomium se beeldspraak wanneer hy sê dat dit nie meer nodig is om Christus uit die hemel te wil terughaal of Hom in die doderyk te gaan soek nie. Hoe onnodig so 'n soektog in die hemel of die doderyk is, lees ons in Romeine 10:9: “Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.”
 
Jood in Moses se tyd of Griek en Romein in Paulus se tyd, of ek en jy in 2022, almal word gered net omdat God ons liefhet en ons hierdie liefde kan beantwoord. So sê Hy, en sy woord is betroubaar en waar.
 
Gebed: Ons Hemelse Vader, ons bely vandag dat ons ook so dikwels swarigheid sien om u opdragte te onderhou. Help ons om te verstaan dat al wat U vra, is liefde. Amen