Ben Fourie 

“Ek verheug my oor u woord, soos iemand wat 'n groot buit gevind het.”  Psalm 119:162, 2020-vertaling
 
Hier in my studeerkamer het ek 'n hele rak vol Bybels. Toe ek laas getel het was hier 52. Ek het voorbeelde van al vier die amptelike Afrikaanse vertalings van die Bybelgenootskap, verskeie Engelse vertalings, vertalings in Hollands en Duits, albei tale wat ek kan lees. Verder Hebreeus en Grieks, albei tale wat ek veronderstel is om te kan lees, maar tot my spyt nie baie goed mee is nie. My grootste spyt is dat ek ook nie die isiXhosa weergawe kan lees nie.
 
Hier is dik outydse versamelaarsitems, ander met moderne omslae asook pragtige leergebonde Bybels wat ek as geskenke ontvang het. Waarskynlik die heel kosbaarste is my heel eerste Kinderbybel wat in 1955 gedruk is en wat ek in 1958 toe ek ses jaar oud was by my ouers gekry het. Die prys staan nog voor in. Dit was agtien sjielings en ses pennies, nogal duur vir daardie tyd. Verder is hier nog boekrakke vol kommentare oor die Bybel.
 
Wat 'n yslike buit, soos ons in ons teksvers lees. Die 1983-vertaling noem dit 'n skat, maar as ek nie geweet het wat binne in staan nie en veral nie geglo het wat binne in staan nie, sou dit net so waardeloos wees as my talle kartonne vol opgegaarde motortydskrifte. Blote papier wat 'n klein bedraggie sal inbring by die kopers van afvalpapier.
 
Of ek nou een of eenhonderd Bybels besit, dit bly die grootste skat wat 'n mens ooit kan ontvang, veral as dit nog in jou moedertaal is. Tog is die boek self maar net nog 'n boek. Die skat self is God se liefde vir my wat steeds die sentrale boodskap dwarsdeur die Bybel bly. Of 'n mens dit nou in Afrikaans of isiXhosa lees, Engels of dalk in braille of gebaretaal, die boodskap van God se liefde soos Hy dit in sy Seun Jesus Christus bewys het, verander nooit. Elkeen van die miljoene Bybels op aarde vertel dit vir ons sonder uitsondering. Wat 'n boodskap om my oor te verheug.
 
Gebed: Baie dankie dat u woord ook vir my 'n groter skat is as enige ander woord op aarde. Amen