Ben Fourie 

“Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam … Verkondig die woord, hou tydig en ontydig aan, weerlê, bestraf, bemoedig in alle geduld en deur lering.2 Timoteus 3:16 & 4:2, 2020-vertaling
 
Die van julle wat al my vorige dagstukkies gelees het weet dat ek groot waardering het vir vader Frans Claerhout se skilderye. Ek is die gelukkige eienaar van 'n kalender met veertien afdrukke van skilderye wat hy vir die Bybelgenootskap in 1994 geskilder het. Die oorspronklikes hang in die Bybelhuis in Bloemfontein. Die tema van die skilderye is “Die Woord”. As 'n mens die Bybel lees, word daar talle male verwys na die woord of Woord en dit sal baie meer as een maand se dagstukkies vra om dit alles te bespreek. Hierdie is dus maar my persoonlike keuse van Bybeltekste wat deur sommige van Claerhout se skilderye geïnspireer is en ander wat my andersins geboei het.
 
In ons teksvers van vandag word gesê dat elke Skrifdeel deur God geïnspireer is. Hier word na die Ou Testament verwys. Die Nuwe Testament soos ons dit ken het in 62-63 n.C. toe Paulus die brief geskryf het, nog glad nie bestaan nie. Die oudste van die vier Evangelies, naamlik Markus, is byvoorbeeld eers in ongeveer 65 n.C. opgeteken en Openbaring waarskynlik so laat as 90 n.C. Dit beteken natuurlik nie dat die Nuwe Testament nie ook van God kom nie. Die Kerk het vir baie jare die leiding van die Heilige Gees gesoek voordat die boeke wat tans die kanon van die Nuwe Testament uitmaak, gefinaliseer is. Die inspirasie beteken nie dat elke woord deur God aan die skrywers gedikteer is nie, maar dat God dit wat Hy as noodsaaklik geag het, laat opteken het. Ons gaan dié maand kyk na hierdie geïnspireerde “woorde” van God, maar ons kry elkeen ook 'n opdrag in verband hiermee.
 
In Handelinge 6:7 lees ons dat die woord van God versprei het en baie mense by die gemeente aangesluit het. 2 Timoteus 4:2 sê die woord moet steeds verkondig word, soms om te bestraf en soms om te bemoedig, soms om te weerlê ander kere as lering sodat mense vandag nog by die geloofsgemeenskap kan aansluit. Hierdie verkondiging is nou jou werk en myne.
 
Gebed: Onse Vader, saam met die skrywer van die lied wil ons ook vra: “Maak oop my hart se poort, maak my ontvanklik vir u woord.” Amen