Ewald Schmidt 

“Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.” 1 Petrus 2:9-10, 1983-vertaling
 
Ons het in ons reis saam met Petrus geleer dat ons nuwe mense is, met 'n nuwe lewe, en 'n nuwe hoop. Ons verantwoordelikheid is om self geestelik te groei, maar ook saam met ander. Ons het mekaar nodig as medegelowiges om saam God se nuwe wêreld, sy koninkryk, sigbaar te maak.
 
Wanneer ons hierdie verse vandag lees, dink ons daaraan dat Petrus se eerste lesers eerste geslag gelowiges was. Sommige van hulle het uit Joodse agtergrond gekom, en Jesus as die lang verwagte Messias leer ken. Sommiges was uit die Griekssprekende wêreld, en het hulle rug op hulle ou kultuur en godsdienste moes draai om Jesus te volg. In die Romeinse Ryk het hulle baie lyding ervaar, omdat hulle Jesus as Here aanbid het, en anders as die res van die gemeenskap was. Hulle het verworpe gevoel, uitgestoot deur die kultuurgroepe waarin hulle grootgeword het.
 
Daarom is dit so belangrik om te weet wat 'n gelowige se nuwe identiteit in Christus is. Petrus gebruik 'n hele paar begrippe om te onderstreep dat hulle, al is hulle nou vreemdelinge in die wêreld, aan God behoort. Vroeër was daar nie regtig iets wat die gelowiges uit verskillende agtergronde met mekaar verbind het nie. Nou is hulle 'n nuwe volk, die uitverkore volk van God. Kinders van die Here is koninklik, ons heers oor die sonde. Ons is priesterlik, ons tree vir die wêreld by God in ons gebede in. Ons verteenwoordig ook ons Here in ons alledaagse lewe as sy beelddraers en getuies oral waar ons gaan. Ons is as gelowiges 'n nuwe nasie – afgesonder vir die Here se diens – ons behoort aan Hom, en dien Hom in alles wat ons doen. Ons behoort aan die Here as sy eiendomsvolk, al voel ons soos vreemdelinge in hierdie wêreld. Ons roeping is om ons Here se verlossingsdade aan alle mense te verkondig.
 
Die inhoud van ons getuienis is dit wat die Here ons eie lewens gedoen het. Sonder die Here het ons ook in die duisternis gelewe, ons was verlore sonder Hom. Maar toe ons Jesus as Here leer ken het, het Hy ons nuut gemaak, ons lewe nou in die lig, ons is ligdraers in die duisternis. Ons het 'n getuienis van voorheen- toe ons Jesus nog nie geken het nie. Dit kontrasteer met nou, waar ons in die Here se genade lewe, ons ken sy barmhartigheid persoonlik, dit het al die verskil in ons lewe gemaak. Ons identiteit het verander – vanaf mense in die duisternis, tot God se mense wat in die lig lewe.
 
Gebed: Here, dankie dat U my uit die duisternis na u wonderbare lig toe gelei het. Dankie vir my nuwe identiteit as kind van God. Gee my die krag van die Gees om dit voluit uit te lewe. Amen