Ewald Schmidt 

“Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” 1 Petrus 2:4-5, 1983-vertaling
 
Ons lewe in 'n tyd waarin baie mense reken hulle die kerk nie meer nodig het nie. Vir hulle is al wat saak maak, om 'n persoonlike verhouding met die Here te hê. Natuurlik is hierdie verhouding baie belangrik! Maar die Here verwag meer as net persoonlike toewyding van ons. 'n Mens kan nie die Nuwe Testament as net 'n “Ek”-boek lees nie. Daar is net heeltemal te veel opdragte in die Bybel wat dit 'n “Ons”-boek maak.
 
Die groot waarheid wat Petrus vandag onderstreep, is dat die enigste vaste fondament vir ons ewige bestaan ons Here Jesus persoonlik is. Petrus haal in vers 1 Petrus 2:6-8 gedeeltes uit Psalm 118:22 en Jesaja 8:14 aan. In die Ou Testament het die volk van die Here die Messias begin verwag, Iemand uit die nageslag van Dawid, wat die volk sou bevry van elke vorm van onderdrukking. Hulle het 'n sterk politieke leier soos 'n tweede Dawid verwag. Daarom het ons Here Jesus nie ingepas by baie mense se verwagting van die Messias nie, Hy is afgekeur deur die mense. En tog het die Vader juis deur sy Seun die wêreld kom verander, in die vorm van Jesus as die Dienende Kneg. Die Vader het vir Hom die ereplek gegee, Hy is die hoeksteen, die fondament van dit wat God met sy koninkryk wil bereik.
 
Ons word uitgenooi, soos Jesus dit ook in Matteus 11:28 gedoen het: “Kom na My toe …” Ons word genooi om ons lewens op Hom te bou, dan bou ons op 'n vaste fondament. Maar dit gaan oor meer as net ek en die Here. Petrus gebruik die beeld van lewende stene vir die gelowiges. Ons is gemaak om in te pas in God se nuwe geestelike gebou, sy huis. 1 Petrus 2:5 is in die passiewe vorm – ons moet God toelaat om ons in te bou in sy geestelike huis. Van ons word gewilligheid, beskikbaarheid en gehoorsaamheid gevra. Met die beeld van lewende stene sê Petrus dat ons gemaak is om interafhanklik van mekaar te wees. Ons het mekaar nodig om saam God se doel uit te leef. Een steen maak nie 'n geestelike huis nie. Ons het mekaar nodig, om mekaar aan te vul, by te staan, te ondersteun, sodat God se huis, sy koninkryk, sigbaar kan word in hierdie wêreld. Jesus het mos juis gebid dat ons liefde vir mekaar en die eenheid onder ons die getuienis sal wees dat Hy die Here is.
 
Die kerk is God se geestelike huis in hierdie wêreld. Mag dit ons s’n ook wees!
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U die hoeksteen van my lewe is, die fondament op wie ek bou. Dankie dat U my ook deel maak van u geestelike huis. Dankie vir die broers en susters in die geloof wat saam met my U dien. Help my om hulle te dien en lief te hê, tot u eer. Amen