Louise Gevers 

Die geslagsregister van Jesus Christus,die Seun van Dawid, die Seun van Abraham: … Asor het Sadok verwek, Sadok het Agim verwek, Agim het Elihud verwek, … en Jakob het Josef verwek, die man van Maria, uit wie Jesus, wat bekend staan as Christus, gebore is. (Matteus 1:1,14,16, 2020-vertaling)
 
Ek het baie daarvan gehou om lesse oor families se stamboom in my Franse klasse te gee. Die studente het die konsep van herkoms fassinerend gevind en gretig geleer wanneer hulle kon sien waar hulle in hulle eie stamboom inpas. Op dié manier het hulle 'n beter begrip van hulle identiteit bekom.
 
Die geslagregisters in die Bybel doen dieselfde. Hulle is noukeurig aangeteken en, bekend of onbekend, plaas dit diegene wat daarin vervat is in konteks en gee waarde aan hulle lewens. Wie ons is en waar ons hoort, is belangrik vir ons gevoel van eiewaarde, maar dit is selfs belangriker vir God want elke persoon is deel van sy plan.
 
Josef word gesien as hierdie nederige, stil man wat vir Jesus skrynwerk geleer het. Na die gebeure toe hy en Maria teruggedraai het opsoek na Jesus wat in Jerusalem agtergebly het, word Josef nooit weer genoem nie. Daar word vermoed dat hy oorlede is voordat Jesus met sy bediening begin het.
 
In die woorde "Josef …, die man van Maria" word sy rol as Jesus se aardse vader byna oor die hoof gesien, maar tog was hy 'n belangrike rolspeler in die oë van God. Josef was noodsaaklik in die lewens van Maria en Jesus, veral tydens die vlug na Egipte, maar sy status as 'n afstammeling van Dawid het die weg gebaan vir Jesus om as die Messias herken te word.
 
Josef se erfenis het die profesie bevestig dat die Messias uit Dawid se koninklike geslag sou kom en dit is deur Jesus vervul. " … sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd." (Jesaja 9:6b Lees ook: Jeremia 33:14-15)
 
Die manier wat Josef vir Maria omgegee het en haar baie duidelk wou beskerm van al die gevolge wat haar "ontrouheid" op grond van die Wet van Moses kon meebring, is 'n bewys van sy integriteit. (Deuteronomium 22:13-21) "Omdat Josef, haar man, wetsgetrou was maar haar nie in die openbaar wou verneder nie, het hy besluit om in die geheim van haar te skei." (Matteus 1:19)
 
God het Josef, soos die geval met Maria, versigtig uitgekies. Saam was hulle die dinamiese ouerpaar wat God, in hierdie belangrike tyd in die geskiedenis, vir sy Seun verlang het. Hoe sou die Messias reg en geregtigheid kon bevorder as Hy nie hierdie kwaliteite primêr geleer het van sy vader, Josef, wat "wetsgetrou was" (Matteus 1:19) en wat God se roepstem eerbiedig het nie?
 
Ons mag soms onbelangrik voel en wonder of God 'n plan met ons lewe het. Ongeag wie ons is of waar ons vandaan kom, ons is belangrik vir God waar ons ook al mag wees. In Christus is ons deel van God se familie, waardevol in sy oë, met 'n erfenis om ons in te verlustig.
 
Julle, egter, is “'n uitverkore geslag”, “'n koninklike priesterdom”, “'n heilige nasie”, “'n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig. (1 Petrus 2:9)
 
Gebed: Vader, dankie dat ons vir U kosbaar is en belangrik is vir u plan vir die wêreld. Help my om U, waar ek ook al is en in alles wat ek doen, te dien en eer. Amen