Louise Gevers 

“My siel loof die Here, my gees jubel oor God my Verlosser, want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien. Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, want die Magtige het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam. Lukas 1:46b-49, 2020-vertaling
 
Wanneer ons vra: "Hoekom het God Maria gekies?" vind ons 'n leidraad in Maria se antwoord aan die engel: "Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” (Lukas 1:38, 2020-vertaling)
 
Maria het God eerbiedig. Sy was nederig en nie skaam om sy diensmeisie te wees nie. Sy het onmiddellik ingestem om deel van sy wonderlike, plan te wees. Sy het Hom ten volle vertrou wat haar in staat gestel het om alle struikelblokke en teëstand wat sy sou ervaar, te oorkom.
 
Maria was verward toe die engel aan haar verskyn en aankondig dat sy guns in die oë van God gevind het, maar sy het slegs een vraag gevra: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” (Lukas 1:34) Die engel se antwoord: "Niks is vir God onmoontlik nie” (Lukas 1:37, 1983-vertaling) was al wat sy nodig gehad het om te hoor.
 
Ons hanteer partykeer Maria se wonderlike ondervinding van toe die engel aan haar verskyn het soos 'n feëverhaal en nie soos 'n werklike lewenservaring nie. Doen ons dit, mis ons die belangrikheid van 'n wonderlike nuwe begin wat oor haar lewe gehang het. Gabriël was nie die goeie feë wat drie wense sou toestaan nie – hierdie was 'n boodskap van God! En dit was geen geringe godsdienstige vereiste wat hy haar gevra het om uit te voer nie. Maria is gevra om 'n offer te bring wat van geen ander vrou vereis is nie en wat haar hele wese sou oorneem – 'n opoffering wat sy gewillig aanvaar het.
 
Moederskap is 'n belangrike roeping wat dikwels onderskat word, maar God het Maria tot die belangrikste roeping van moederskap denkbaar geroep. Deur haar te kies vir die eer om die moeder te word van die baba wat as die Verlosser van die wêreld gebore is, het Hy 'n persoon gekies wat trots op haar kind sou wees, hom met integriteit lief sou hê en hom haar waardes, veral gehoorsaamheid, sou leer. Sy sou ook haar dienende hart, liefdevolle, eerbiedige gees en volkome vertroue op God met hom deel. Maria se waardes het 'n aandeel gehad in Jesus se opvoeding en hierdie waardes sou Hy later, toegerus deur die geloof wat Hy in haar gesien het, in sy eie lewe weerspieël.
 
Deur alle regte om haar te beskerm, selfs haar reputasie, op te offer en volkome te vertrou dat "… God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is," (Romeine 8:28) het sy die wil van God vervul. Wat Maria se geloof voortgebring het, was Immanuel: God met ons – 'n nuwe manier om God te beleef – en Hoop wat voorheen nie net vir haar onbekend was nie, maar ook vir die wêreld.
 
As Maria getrou kon wees aan die roeping wat God, haar Kampvegter, op haar hart geplaas het, kan ons nie ook getrou wees nie? Wanneer ons gedurende hierdie Advent nadink oor God se wil vir ons, laat ons ook oor Lukas 1:46-55 besin. Mag Hy ons vul met Maria se onvoorwaardelike vreugde oor wat Hy hierdie Kersfees vir ons doen. 

Gebed: Here, U stil "die honger … met wat goed is." Skenk asseblief aan my die krag om nederig en gehoorsaam u doel vir my lewe te vervul. Amen