Ben Fourie 

“In die tyd toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het daar in die woestyn 'n woord van God na Johannes, seun van Sagaria, gekom.” Lukas 3:2, 2020-vertaling
 
Padmaker vir die Here Jesus. Reeds in Maleagi 4:5 word daar verwys na “Elia” wat sou kom om die weg vir die Messias voor te berei en so vroeg as Lukas 1:17 word Johannes met hierdie “Elia” geïdentifiseer. Wanneer Johannes sy bediening begin, soos beskryf in Matteus 3, word hy geteken as die een van wie Jesaja 40:3 praat wanneer hy sê: “ 'n Stem roep: ‘Maak in die woestyn die pad van die Here gereed.’”
 
Johannes se hele lewe en uiteindelik ook sy dood aan die hand van Herodes Antipas, was volkome aan God gewy. Johannes se vader, Sagaria, het voor sy geboorte al 'n loflied tot God se eer gesing en in Lukas 1:76 sê hy: “En jy kindjie, profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitloop om sy paaie gereed te maak.” Dit het Johannes dan ook gedoen deur te doop en te preek en mense op te roep tot bekering.
 
Hierdie toewyding aan God en aan alles wat reg was, het op die ou end vir Johannes in die tronk laat beland. Die koning op daardie tydstip was Herodes Antipas, seun van Herodes die Grote. Oor sy huwelik met sy broer se gewese vrou, Herodias, het Johannes die koning gekritiseer. Daarvoor het Herodes hom in die tronk laat stop. Terwyl hy daar in die tronk sit, het onsekerheid aan hom begin knaag of die Jesus wat hy self gedoop het en op wie hy die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal het, wat van moederskant af familie van hom was en van wie hy selfs in die tronk baie dinge hoor, werklik die Messias is.
 
Daarom stuur hy van sy volgelinge om te gaan vra. Wat 'n gerusstelling moes Jesus se antwoord nie gewees het nie. Kyk na wat ek doen, sê Jesus vir hom en jy sal nie meer twyfel nie: “Blindes sien weer, en verlamdes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die goeie boodskap verkondig.” (Matteus 11:5) Selfs die groot padmaker vir Jesus kan twyfel, en so ook ons, maar Jesus ruim ook ons twyfel uit die weg wanneer ons maar net kyk na wat Hy gedoen het en steeds in ons eie lewens doen.
 
Gebed: Dankie dat U ook my twyfel uit die weg ruim. Amen