Ben Fourie 

“Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom.” Matteus 2:1, 2020-vertaling
 
Herodes die Grote is deur die Romeine aangestel as koning van Palestina en het vanaf 37 v.C. regeer. Hy was 'n goeie administrateur en het bouprojekte op groot skaal aangepak, onder andere uitbreidings aan die tempel. Hy was van Edomitiese afkoms, maar het as Jood grootgeword en was in die Joodse godsdiens onderrig. Verder was hy hoog in aansien by die Romeinse keiser, maar was nie gewild onder die Jode self nie. Herodes was volgens alles wat mens oor hom lees 'n wrede en selfgesentreerde persoon wat twee van sy eie seuns en selfs sy eerste vrou, Mariamne, laat doodmaak het omdat hy hulle as 'n bedreiging vir sy koningskap gesien het.
 
Op 'n dag vind daar 'n belangrike ontmoeting plaas met Herodes aan die een kant en die sterrekenners of wyse manne uit die Ooste aan die ander kant. Laasgenoemde het waarskynlik vanaf Persië, gekom, wat in daardie tyd hoog aangeskrewe was op wetenskaplike terrein. 'n Mens staan verbaas as jy in ou geskrifte lees hoeveel hierdie Persiese sterrekenners sonder moderne teleskope en rekenaars wel van die hemelruim geweet het. So sien hulle op 'n stadium 'n spesiale ster wat hulle interpreteer as die aanwyser van 'n koning se geboorte. Hulle vertrek op 'n lang tog om hierdie koning te probeer vind.
 
Albei die partye glo in die geboorte van die nuwe koning van die Jode, maar hulle reaksie op die nuus is totaal verskillend. Herodes sien Hom as 'n bedreiging tot sy troon en probeer alles in sy vermoë doen om hom dood te maak. Die sterrekenners sien hom as 'n koning en doen alles in hulle vermoë om Hom op te spoor en aan hom eer te bewys.
 
Sedert sy koms na die aarde lok Jesus nog steeds hierdie verskillende vorme van reaksie uit. Vir sommige mense is en bly Hy 'n bedreiging omdat Hy inbreuk maak op hulle eie klein koninkrykies. Ander kry die genade om Hom te sien as die ware Koning en vind vreugde daarin om elke dag aan Hom eer te bewys. Niemand bly onaangeraak nie.
 
Gebed: Dankie Here dat ek een van die begenadigdes is wat Jesus as koning in my lewe erken. Dankie dat ek ook die vreugde mag smaak om Hom elke dag te eer en te aanbid. Amen