Ewald Schmidt

“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie …” Psalm 23:1, 1983-vertaling
 
Die Here het Dawid deur Samuel laat salf in sy pa se huis as koning van Israel op 'n jong ouderdom. Toe Samuel vertrek, toe gebeur daar … oënskynlik niks! Die volgende oggend het sy pa hom weer gestuur om skape op te gaan pas in die veld. Ek kan dink hoe verontwaardig het Dawid gevoel – een oomblik hoor hy hy is gekies om koning van Israel te word, en die volgende oomblik is hy alweer tussen die skape.
 
Daar gebeur wonderlike dinge in die klaskamer van die lewe, dikwels sonder dat ons dit agterkom. Dawid moes een van die grootste lesse van sy lewe van jongs af leer. En daardie les moes gebeur in die sleurwerk tussen die skape in die veld. Waar wind en weer, rowers en wilde diere die hele tyd die skape bedreig. Dawid moes eers leer om vir skape verantwoordelik te wees, voordat hy gereed sou wees om 'n leier van mense te wees. Hy as die skaapwagter moes soek vir die weiding wat die skape nodig het. Hy moes seker maak dat hulle by drinkwater uitkom. Hy moes hulle veilig hou. So het hy die taak van 'n skaapherder mooi bemeester.
 
Op 'n dag het die insig hom getref – soos wat hy die skape oppas en lei en versorg, so is die Here ook besig in sy lewe. Die Here is sy herder. Die Here gee lewe. Hy gee dit wat ons nodig het om van te lewe. Die kos, die water, veilige skuilplek – dit alles is die genade van die Here in my lewe elke dag. Dit word Dawid se kosbare geloofsbelydenis, wat so geliefd geword het onder alle gelowiges van alle tye: Die Here is my Herder! Hy sorg vir my. Hy lei my. Hy bewaar my. Dawid sou later as koning mag in sy land hê. Hy sou so suksesvol wees, dat hy met weelde kon lewe in 'n pragtige paleis. Maar steeds het hierdie woorde hom bygebly: Ek het steeds 'n Herder nodig, wat ook vir my lei, bewaar en versorg. Wanneer ons die Here so ken en vertrou, dan is daar soveel minder bekommernis in ons lewe. Dan leer ons om met dankbaarheid te lewe. Dan word ons getuienis soos Dawid s’n – omdat Hy my Herder is, kom ek niks kort nie. Hy gee alles wat ek nodig het om van te lewe, en om my roeping te vervul.
 
Soms leer ons die grootste lewenslesse in die nietigste tye van ons lewe!
 
Gebed: Dankie Here, dat U die goeie Herder van my lewe is. Dankie dat U vir my voorsien in alles wat ek nodig het om van te lewe, en om my roeping uit te leef tot u eer. Vervul my hart elke dag met dankbaarheid vir al u goedheid! Amen.