Ewald Schmidt 

“Stuur jou seun Dawid wat by die kleinvee is, na my toe.” 1 Samuel 16:19
 
Dawid is as jong seun deur Samuel gesalf tot koning van Israel. Dit was sy roeping en sy lewe se doel. Die een groot voordeel wat Dawid gehad het, was dat hy nie die seun van 'n koning was nie. Ek kan dink dat sy sewe ouer broers ook nie baie beïndruk was daarmee dat kleinboet hulle koning gaan wees nie. Dawid moes nog 20 jaar wag voordat hy uiteindelik sy troon sou kry. Wat het intussen gebeur? Die Here was besig om hom te vorm en voor te berei, al het dit dalk vir hom gevoel asof daar net mooi niks gebeur nie.
 
Isai het die wysheid gehad om Dawid steeds te laat skape oppas. Selfs nadat hy as koning gesalf is. 'n Koning moes leer dat getrouheid in die klein dingetjies jou voorberei vir die groot verantwoordelikhede wat wag.
 
Sonder dat Dawid dit besef het, was die Here besig om die voorbereidings vir sy koningskap te tref. Koning Saul het al verder van die Here af weggedryf, en al meer onstabiel geword. Al wat hom in sulke tye kon kalmeer, was iemand wat vir hom musiek maak. En so, nie toevallig nie, het Dawid sy tyd verwyl tussen sy pa se skape deur musiek te maak op sy lier. Van Saul se binnekring het hom gehoor, en gedink aan hom toe die koning 'n musikant soek. Die Here het die regte gawes, en die regte geleentheid geskep, dat Dawid koning Saul kon ontmoet. Dawid het vir Saul begin werk as musikant (1 Samuel 16:22).
 
Die Here roep ons tot sy diens, elkeen met 'n verskillende roeping. Die Here het vir ons gawes gegee, om ons roeping mee te voltooi. Soms, nie toevallig nie, is ons op die regte tyd, op die regte plek, besig met die regte ding, wanneer alles bymekaar kom om God te eer.
 
Gebed: Here, help my om moed te hou wanneer dit lyk asof daar niks in my lewe gebeur nie. Help my om aan te hou om my gawes te beoefen, en my vaardighede op te skerp, selfs al voel dit soos tydmors. Leer my om u vorming geduldig te aanvaar. Wys my die regte pad, gee my die geleenthede en die krag van die Gees, en help my om getrou te wees aan u roeping in my lewe. Amen.