Carina Francke 

DAAR is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Jesaja 42:1, 1933/1953-vertaling
 
Jy is gestrand op 'n onbekende eiland. In jou ronddwalery op soek na skuiling teen die elemente, wilde diere en die onbekende, ontdek jy 'n handgetekende kaart op 'n stuk dryfhout in 'n rotsskuiling. Die boodskap daarop is verdof, die skrif moeilik leesbaar, maar jy kan darem uitmaak dat jy net moet wag. Hulp sal een of ander tyd opdaag. “Hoeveel mense het dan al hier verdwaal? Wat as hulle nie opdaag nie!” jaag dit deur jou kop. Jy draai die stukkie hout om, sien dan die verbleikte krabbelwoord, “Wag”.
 
Dis min of meer wat in die gedagtes van God se volk in die Ou Testament moes omgaan terwyl hulle op die koms van die Messias gewag het. Die lewe was bitter en swaar. Daar is vyande van alkante. Wanneer kom die Messias? Dan onthou hulle weer God se belofte deur die profeet Jesaja: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, My Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. (Jesaja 42:1).
 
Maar hulle moes wag!
 
Moeg gewag in jou rotsskuiling, raak jy bewus van 'n rumoer en kwaai, harde stemme. Jy krimp kleiner, hulle moet jou net nie sien nie. Bo die geraas hoor jy skielik 'n stem wat met gesag bulder: “Al die wagtendes, julle wag is verby. Julle is veilig as julle agter my aankom.”
 
Sonder tweekeer dink, storm jy uit jou skuiling en volg sy voetspoor. Jou redder het gekom.
 
In die Ou Testament is konings, profete en priesters seremonieel met olie gesalf as teken van God se roeping en bediening. Die Gees van God het slegs deur hulle gewerk. Dié voorreg was Jan Alleman nie beskore nie. Maar dit verander alles toe die Nuwe Verbond van krag word na Jesus se dood, opstanding en hemelvaart. Die Belofte van die Vader, naamlik die aktiewe teenwoordigheid van die Heilige Gees, word beskikbaar vir elke Christus-gelowige! (Lukas 24:49)
 
Die bediening van die Gees in die Ou Testament, het hoofsaaklik gefokus en heengewys na die koms van die Seun van God: Jesus Christus, die verwagte Messias. Voordat Hy sy bediening kon begin, is Hy ook gesalf – nie met olie nie, maar met die Heilige Gees. “..met betrekking tot Jesus van Nasaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees.” (Handelinge 10:38)
 
Dring dit deur? Die Messias, Jesus het reeds gekom! En met sy lewe, dood, opstanding en die geskenk van die Heilige Gees, het Hy vir elke gelowige die pad oopgebreek om te kan sê: “Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid." (1 Johannes 2:20, 1983-vertaling)
 
Gebed: Ons sê dankie Vader, dat ons nie meer hoef te sit en wag op die belofte van die Heilige Gees nie. Geloof in Jesus Christus het die deur na die Geessalwing oopgemaak. Nou kan ons leef en dien as afhanklike, maar oorwinnende gesalfdes! Amen