Carina Francke 

“Die Gees van die Here het oor hom vaardig geword.” Rigters 15:14
 
“Ek het hom vervul met die Gees van God.” Eksodus 31:3
 
“Was die Heilige Gees betrokke in die Ou Testament?”, is 'n saak waaroor sommige mense wonder. Vir seker ja! Al word daar in die Ou Testament na Hom verwys as die “Gees van God” of “die “Gees van die Here”, is en bly die Godheid die onveranderlike Drie-Eenheid.
 
Hierdie benaming kom nie in die Ou Testament voor nie, maar word duidelik geïmpliseer. Dit is die “Gees”, wat mense in staat stel om Godgegewe opdragte suksesvol uit te voer. 'n Mens kan sê dat so 'n taak te doen het met 'n kragdaad van God deur die mens.
 
Die Heilige Gees tydens die skepping
Visualiseer hierdie prentjie van Genesis 1:2. Die aarde of toenmalige wêreld (2 Petrus 3:6) is 'n donker watermassa van onbewoonbare chaos. Die Gees van God sweef oor hierdie chaos. As die “uitvoerende arm” van die Drie-eenheid, was Hy saam met God aan’t werk om 'n nuwe skepping tot stand te bring. Die chaos verander binne ses dae in 'n paradys waar lewende wesens kan woon. God se woorde: “Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Genesis 1:26) impliseer die betrokkenheid van die Heilige Gees. Job 33:4 bevestig hierdie waarheid as hy bely dat die Gees van God hom gemaak het en dat die asem van Almagtige hom lewe gegee het.
 
Die Heilige Gees bemagtig leiers van Israel
Herken jy hierdie scenario? Talle gelowiges en mense in die algemeen, word ontrou aan die Here; aanbid en dien enigiets, behalwe vir God; leef asof daar geen môre is nie en beland uiteindelik op die spreekwoordelike ashoop. Hardloop na die Here vir hulp, Hy gee dit graag; vir 'n rukkie gaan dit goed. En dan, terug na die ou paaie.
 
Dit is ook Israel se geskiedenis. Een van die belangrikste bedieninge van die Heilige Gees in die Ou Testament, is sy betrokkenheid by die lewens van die volk Israel. As hulle in die nood was, het God rigters gestuur om hulle te lei. Die Gees van God het oor hulle gekom en hulle bemagtig om die volk te lei. Onthou jy Simson en Gideon?
 
Moses het ook die werking van die Gees geken. Hy het in die woestyn gesien hoe die Here in 'n wolk afkom en 'n deel van die Gees wat op hom, (Moses) was, op sewentig leiers laat kom het. Hulle het as profete opgetree toe die Gees op hulle kom, maar daarna nie weer nie (Numeri 11:25). Die Gees van God het ook mense met vaardigheid, insig en kennis gevul sodat die aanbiddingsplek van Israel toegerus kon word. (Eksodus 31:3,6)
 
Gebed: Vader, dankie dat die bediening van die Gees in die Ou Testament, heengewys het na u Seun, Jesus, die Gesalfde! Hy het gekom en die volheid van die Gees oor gelowiges kom uitstort. Wat 'n voorreg! Amen.