Xanthe Hancox
 
Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het die Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee." Matteus 20:28, 2020-vertaling
 
Sebedeus se familie het 'n plan gehad. Jesus was besig om naam te maak. Mense het oral oor sy wonderwerke en leringe gepraat. Twee van Sebedeus se seuns, Jakobus en Johannes, was onder die eerste volgelinge van Jesus, en wou seker maak dat hulle belangrike posisies in Jesus se koninkryk kry. Jesus was egter nie beїndruk nie.
 
Ons kan baie energie spandeer om onsself te vestig, ons waarde te probeer bewys en die bes moontlike voordele en belonings te bekom. Jesus se leer oor belangrikheid en mag verskil egter radikaal hiervan. Ware belangrikheid kom in die vorm van 'n dienaar wat homself aan die wil van God oorgee. Ware belangrikheid in die koninkryk van God kom deur die besef dat, deur Jesus se dood en opstanding, ons waarlik gered en ons sonde vergewe is. Ons het niks gedoen om dit te verdien nie en ons kan niks doen om dit te verdien nie.
 
Ware mag in die koninkryk van God doen afstand van die behoefte om raakgesien te word en eerste te wees. Ware mag soek eers na 'n lewe van geregtigheid, genesing en herstel vir almal. Deur so te leef, sal jy heel waarskynlik nie raakgesien word nie. Maar as jy in jou lewe doen wat reg is, troue liefde bewys en nederig die pad saam met God loop (Miga 6:8) beskik jy oor die lewegewende krag van die evangelie.
 
Gebed: Here Jesus, gee dat ons lewens die krag, edelheid en liefde weerspieël wat U deur u lewe, dood en opstanding aan ons openbaar het. Maak ons dienaars van geregtigheid en instrumente van vrede. Ons bid dit in u Naam. Amen