Xanthe Hancox 

Ten slotte: Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel. Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. Efesiërs 6:10-12, 2020-vertaling
 
Dit is onmoontlik om van al die simbole van aardse mag rondom ons te ontsnap.
 
Vlae en 'n motorkavalkade kondig gewoonlik die teenwoordigheid van hoëlui aan. Uniforms en kentekens wat polisie- en militêre offisiere dra, dui die rang en gesag aan van die persoon wat dit dra.
 
En magsimbole word nie net tot regerings beperk nie. Miskien het jou hoof ook die hoekkantoor en die beste parkeerplek. In die sakewêreld word daar selfs na "power dressing" en "power walking" verwys.
 
Dit is egter alles uiterlike simbole. Hulle definieer nie finaal die karakter, mag of waardes van die persoon wat dit dra of gebruik nie.
 
In sy brief aan die Efesiërs sê Paulus aan die gelowiges: "Vind jou sterkte in die Here." Moenie jou bekommer oor hoe jy die magsimbole van hierdie wêreld kan bekom nie, maar soek eerder die innerlike krag en eienskappe wat die krag en mag van God in jou lewe weerspieël.
 
Slegs die krag van God en sy mag kan ons beskerm teen die listige aanslae van die duiwel wat ons van die Here wil skei.
 
Paulus verduidelik verder presies wat dit beteken om sterk te wees in die Here en in sy groot mag. As ons ons met die waarheid omgord en met geregtigheid bedek (Efesiërs 6:14), vrede aantrek (v15), die skild van die geloof opneem (v 16), en die helm van verlossing en swaard van die Gees dra (v17) sal ons begin om die betekenis van 'n lewe in die opstandingskrag van die Here te verstaan.
 
Ons weet nie wat vandag vir ons gaan bring nie. Maar wat dit ookal mag wees, ons het krag in die Woord van God.
 
Gebed: Here, maak ons geloof sterk, vul ons met nederige vertroue en help ons om deur u krag te leef. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen