Xanthe Hancox 

Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas. Johannes 19:28-30
 
Ek het dit nog altyd moeilik gevind om oor Jesus se dood te lees. Oor die fisiese pyn en marteling van sy kruisdood tot die verraad van diegene naaste aan Hom en die geestelike pyn omdat Hy deur sy Vader verlaat is – eenvoudig te afgryslik om uit te staan.
 
Hoekom sal enigiemand dit 'Goeie' Vrydag noem?
 
Ek het altyd verstaan dat dit Goeie Vrydag genoem word oor wat bereik is. Ons kan dit "goed" noem as ons die feit waardeer dat Jesus se verhoor, straf en dood vir ons verlossing gebring het. Ten spyte hiervan, was die naam altyd 'n kontras vir my. Die naam ignoreer die afgryse van daardie dag en spring reguit na Paassondag.
 
Ek het 'n bietjie gaan kyk hoe hierdie dag regoor die wêreld bekend staan.
 
Die Angel-Saksers het dit Lang Vrydag genoem en dit word steeds so in hedendaagse Deens (Langfredag) genoem. In die Griekse liturgie is dit bekend as "die Heilige en Groot Vrydag", en in Duits word dit Karfreitag (Treur Vrydag) genoem.
 
En daar is ook 'n verduideliking vir die Engelse "Good Friday". Daar bestaan 'n teorie, wat deur beide die Oxford English Dictionary en die meeste taalkundiges ondersteun word, dat die naam van 'n verouderde betekenis vir "good" kom.
 
Die verouderde betekenis van die woord "good" was eintlik "holy", en dit maak baie sin. Dit verduidelik ook hoekom daar op 'n stadium in Engels na die Woensdag voor Pase as "Good Wednesday" verwys is, terwyl dit deesdae meestal "Holy Wednesday" genoem word.
 
Om na môre as Heilige, Lang, Groot of Treur Vrydag te verwys, help ons om saam met Jesus se moeder en suster by die kruis (Johannes 19:25) hartseer te wees en te rou en om na te dink oor die omvang van wat daardie verskriklike dag gebeur het.
 
Dit is natuurlik waar dat 'n goeie ding (die beste ding ooit!) na Goeie Vrydag kom. Die opstanding van Jesus en die viering van Paasfees, die hoogtepunt van ons Christelike feesdae.
 
Gebed: Hemelse Vader, môre is Goeie Vrydag en ons betreur die sonde en boosheid wat hierdie gruwelike gebeure genoodsaak het. Ons is so dankbaar vir die offer wat u Seun gebring het. Dankie ook vir Paassondag, vir die blydskap omdat Hy die dood en sonde oorwin het. Ons bid dit in u heilige Naam, Amen