Louise Gevers 

Wie wysheid het, voel hom tuis waar daar gerou word, die dwaas voel hom tuis waar daar plesier is.  Prediker 7:4
 
Die dood word 'n onvermydelike realiteit wanneer 'n mens in 'n pandemie leef. Landswyd lok dit baie angstigheid en besprekings uit oor hoe om veilig te bly, met die president wat by geleentheid hierby aansluit en oor die televisie regulasies vir die voordeel van ons almal aankondig. Wat tog hieruit voortspruit, is groter blydskap wanneer iemand herstel, groter waardering vir diegene wat ons liefhet en louter vreugde wanneer ons met hulle herenig word. Hierdie komplekse hartverskeurende omstandighede het tog 'n positiewe uitwerking op ons begrip van geluk en blydskap.
 
Salomo is skerpsinning in sy waarnemings in vandag se teksvers, en deur sy gedagtes te verken, word ons met 'n dieper begrip van die lewe beloon. Aangesien God aan hom wysheid geskenk het, is hierdie sy eie opinie en nie die herhaling van populêre filosofie nie. Wanneer hy, eerder as om oor geluk en blydskap na te dink, die dood as 'n waardiger onderwerp beskou, kom die vraag by 'n mens op of Jesus, wat mense oor beide onderwerpe geleer het, met Salomo sou saamstem en wat sy mening sou wees.
 
Jesus het geluk beslis as 'n belangrike deel van die lewe beskou, want die kern van sy bediening was om mense in staat te stel om om deur Hom God te leer ken en so volkome vervulling in hulle lewens te vind: "Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed." (Johannes 10:10b) Maar alhoewel 'n nadere beskouing van dit wat seëninge (met "gelukkig" vertaal in die 2020-vertaling) bring in Jesus se bergpredikasie ons verras, is dit bemoedigend omdat dit sin maak van ons lewenservaring.
 
Die gelukkiges is die armes van gees, diegene wat treur, die sagmoediges, diegene wat honger en dors na geregtigheid, die barmhartiges, die wat suiwer van hart is, die vredemakers, diegene wat ter wille van geregtigheid vervolg word, en hulle wat om Jesus se ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig word. (Lees Matteus 5:3-11) Geluk kom deur die regte waardes uit te leef, met belonings wat tot na ons dood sal volg "Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” (Matteus 5:12)
 
Jesus het nooit die dood geȉgnoreer nie. Hy het na die aarde gekom om te sterf, om ons van 'n dubbele dood te red, was vir Hom die belangrikste, veral op hierdie dag in die Groot Lydensweek – in Engels genoem "Spy Wednesday" – die dag toe Judas vir 30 geldstukke Jesus verraai het. Die "spioen" onder hulle het die godsdiensleiers gelei om Hom te arresteer. Maar Jesus is nie onkant betrap nie. "Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. (Johannes 13:31)
 
Hoe moeilik moes dit nie gewees het om deur iemand so na aan jou verraai te word nie. En tog, was Jesus vervul met die wete dat God se doel bereik is.
 
Gebed: Here Jesus, wanneer ons U volg, maak dit sin om oor dood en blydskap na te dink want U is ons voorbeeld. Gee asseblief aan my u perspektief om oor beide na te dink, want "U (alleen) het die woorde wat ewige lewe gee" (Johannes 6:68) en kan my help om u doel in my lewe te bereik. Amen