Louise Gevers 

U is mooier as ander mense, guns vloei oor u lippe, daarom seën God u vir altyd. Gord u swaard aan die heup, o held – u majesteit en u luister! … Trek op ter wille van waarheid, nederigheid en geregtigheid! Laat u regterhand vir u ontsagwekkende dinge leer. U pyle is skerp in die hart van die koning se vyande; ... Psalm 45:3-6, 2020-vertaling
 
Ek hou van die tasbare gees van oorwinning in vandag se psalm wat baie Bybelwetenskaplikes as 'n Messiaanse psalm beskou. Die beeld wat dit oproep, is een van Jesus hoog bo die sorge van die wêreld met sy wapenrusting ongeskonde, sy geregtigheid wat deur boosheid, sonde en trots sny en elke keer sy teiken tref. Die psalm weerspieël die lofprysinge van die triomfantlike intog. Die ironie is egter dat Jesus van die hoogtepunt van sy intog in Jerusalem toenemend die verwerping van die verwarde skare beleef het, totdat hulle uiteindelik uitgeroep het dat Hy gekruisig moes word.
 
In 'n week wat vir Jesus een van intense gevoel was, het Hy alleen geweet dat Hy deur een van sy dissipels verraai en deur die ander verloën en verlaat sou word. Hy het nietemin elke dag getrou met sy moeilike reis na Jerusalem en die kruis voortgegaan, gehoorsaam aan die wil van sy Vader – geregtigheid en majesteit nie bo, maar in nederigheid binne en tussen die sorge van die wêreld.
 
Ten spyte van die naderende duisternis in die laaste week van sy aardse bestaan, het Jesus nooit sy perspektief en doelgerigtheid verloor nie. Hy het voortgegaan om uit te reik na diegene in nood, selfs toe sy vriende Hom nie kon verstaan nie omdat hulle nie wou luister na wat Hy vir hulle sê nie.
 
Ja, Hy het kwaad geword toe Hy gesien het hoe die tempel misbruik word en hoe God se bedoeling dat sy "huis sal 'n huis van gebed vir al die nasies genoem word," (Markus 11:17) deur die godsdiensleiers geȉgnoreer word. Hy het diegene tereggewys wat twee keer van die tempel 'n "rowerspelonk" gemaak het, deur die mense uit te buit wanneer hulle geld wissel, en ook die tempel van sy heiligheid te beroof deur die terrein wat vir gebed bedoel was, in 'n luidrugtige, stinkende mark en deurgang te verander.
 
Geregtigheid, majesteit, nederigheid, God met ons.
 
Dit kan baie moeilik en pynlik wees wanneer mense vir wie ons omgee nie kan identifiseer met waar ons op ons reis is nie. Wanneer die ondersteuning en vreugde wat hulle ons voorheen gebied het, met verwerping en eensaamheid vervang word, kan ons ons perspektief en doelgerigtheid verloor. Maar in Jesus is God, te midde van al ons sorge, met ons. Sy voorbeeld en sy teenwoordigheid hou ons op die pad.
 
Gebed: Here Jesus, “U troon … is vir ewig en ewig, en die septer van geregtigheid is die septer van u koninkryk! (Hebreërs 1:8) Dankie dat U u genade aan ons betoon deur u voorbeeld in ons lewens te laat geld. Help my om, soos U, in geregtigheid te groei. Amen