Louise Gevers
 
Hy moet meer word en ek minder. “Hy wat van bo af kom, is bo almal; hy wat van die aarde is, hoort by die aarde en praat die taal van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal.
 
Dit is moeilik om die onbelangrike een te wees in 'n wêreld vol belangrike mense, maar om nederig te wees is die hart van God. In sy groot skema van dinge, kies Hy dikwels om deur diegene te werk wat nie so belangrik in hulle eie oë is nie en wat van Hom afhanklik is om sy roeping uit te voer sonder om in sy pad te staan.
 
Hierdie gees was teenwoordig in Johannes die Doper, wat toe hy deur die priesters gevra is om homself te identifiseer, geantwoord het: "Ek is die een wat in die woestyn roep … " (Johannes 1:23) Dit vervul Jesaja se profesie en versterk wat Paulus skryf: "En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak." (1 Korintiërs 1:27-28)
 
Johannes was die laaste profeet om die weg vir hierdie goddelike koms voor te berei. Deur sy radikale woorde het hy die mense tot bekering geroep en harte is verander, en 'n nuwe gees van hoop is gebore: Het jy genoeg? Deel dan jou kos en besittings met diegene wat nie het nie. Belastinggaarders moet nie meer invorder as wat vasgestel is nie. Soldate moet tevrede wees met hulle betaling en nie hulle uniform gebruik om mense deur geweld of vals aanklagte af te pers nie. (Lees Lukas 3:11-14) Klink dit bekend?
 
Omdat Johannes die weg vir Jesus voorberei het deur sonde direk aan te spreek, het die mense begin wonder of hy die Messias is. Maar Johannes, diep bewus van die skerp kontras tussen hom en die grootheid en nederigheid van die Een wat moes kom, het gesê: "Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop." (Lukas 3:16)
 
Ons kan baie leer van Johannes se nederige, visionêre benadering wat grootliks verskil van die van baie belangrike mense met 'n missie. Sy inspirasie was gehoorsaamheid aan God en nie aandag op homself nie. Deur sy menslike beperkings te erken en die kollig op Jesus te laat val, het hy Jesus se enorme krag as die Messias onderstreep. Tog het Jesus van hierdie nederige profeet gesê: “Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, … (Matteus 11:11)
 
Johannes het die belangrikheid van Jesus vir die mense van sy dag uitgewys en hy wys ons ook op sy belangrikheid vir vandag. Waar is ons in die geheelbeeld? Het ons Jesus in sy regmatige plek in ons lewens geplaas sodat ons ook sy belangrikheid kan uitwys?
 
Om Jesus eerste te stel, verander lewens!
 
Gebed: Hemelse Vader, niemand is groter as Jesus, u Seun, nie. Help my om die behoefte aan nederigheid in myself te verstaan sodat ek, soos Johannes die Doper, my lewe aan U sal oorgee en ek die werk waarvoor U my op aarde geplaas het, tot sy eer sal doen. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen