Louise Gevers 

Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Hebreërs 1:3
 
Dit is geen geheim dat die wêreld in onrus verval het nie. In 'n vyandiggesinde, nuwe wêreld, veg mense oral om te oorleef en om sin te maak van hulle lewens. Niemand is vrygestel nie, en niemand het die antwoord vir die probleme van toenemende werkloosheid, honger, beperkings en onsekerheid op al die gebiede wat deur die pandemie veroorsaak is nie. Die wêreld se gevoel van welstand is geskud terwyl ons almal se geloof en waardes in hierdie donker tye getoets word.
 
As daar niks in ons lewens is om ons te anker nie, is dit baie maklik om belangrike dinge uit die oog te verloor wat ons in staat stel om sterk te wees en kalm en gefokus die aanslae te oorleef, eerder as om stadig afgetrek te word totdat elke nuwe probleem of uitdaging wat ons ondervind, dreig om ons te oorweldig. Om te weet waar ons vertrou lê wanneer ons wêreld geskud word, sal verhoed dat ons ten gronde gaan.
 
Hierdie juweel van 'n vers uit Hebreërs beklemtoon hoekom hoop in Jesus in enige tyd van onrus vas en seker is.
 
'n Bruid is stralend op haar troudag want haar blydskap verander haar en sy gloei van geluk. Dit kan egter nie vergelyk word met die skitterende skoonheid van die ingewikkelde, glinsterende strale wat God se heerlike lig, deur Jesus, in die donker wêreld uitstort nie. Jesus as "die ewebeeld van die wese van God" sluit alles in wat ons nodig het. Hy is God. En alhoewel ons van die aarde en Hy van die hemel is, oorbrug Hy die gaping.
 
Jesus se koms na die aarde het dit vir gewone mense moontlik gemaak om die grootheid en genade van God te sien in 'n gewone man wat buitengewone dinge gedoen het, en om 'n kykie in die realiteit van die hemel te kry. Jesus het 'n nuwe belewenis van God na die aarde gebring, en vir altyd, deur sy leringe, ons begrip van Hom verander.
 
Jesus het 'n intieme verhouding met ons hemelse Vader moontlik gemaak deur sy offer. God wat vir ewig en altyd regeer, is by ons.
 
Jesus, God as mens, help ons om sterk te wees en enige aanval te verduur: "Julle moet glad nie bang wees vir julle vyande nie. As julle nie vir hulle bang is nie, dan sal dit vir hulle wys dat God hulle sal straf, maar dat Hy julle sal red." (Filippense 1:28, Bybel vir Almal) Ons ken die vrede van vergifnis en die vreugde van sy geskenk van die ewige lewe. 

Gebed: Here Jesus, U is die lig van God se heerlikheid en die Waarheid oor wie Hy is. U hou alles bymekaar as sy kragtige Woord en U voorsien die weg na Hom. Ons kan geen beter anker in al ons onrus en beproewinge hê nie. Help my om u hand elke tree van die pad vas te hou. Amen