Vers n dag - 15 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Weggesteek
Carina Francke
Skrifgedeelte: Psalm 27:4, 5,14
Het jy al gewens dat jy vir 'n rukkie op 'n plek kan gaan wegkruip waar niemand jou ken of sal pla nie? Waar jy net jou kop kan skoonkry en perspektief op jou lewe en omstandighede kan kry?
So 'n plek bied egter nie absolute beskerming teen die onheil nie (gevare, beproewinge, benoudhede, hartseer, treurigheid), maar is net 'n tydelike wegkom van die lewensdruk.
Die Psalmis het egter 'n plek ontdek waar niks hom kan skade aandoen nie. O ja, hy besef dat sy vyande en teëstanders steeds hulle mes vir hom in het, maar hierdie is 'n plek waar die Here self oor hom waghou. En al sou daar iemand by die hut of tent inbreek, is hy in geheime plek weggesteek waarvan net die Eienaar weet. Dit is 'n plek so veilig soos 'n rots – ondeurdringbaar en bewaak deur die eienaar self. Luister wat sê die Palmis:"Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op 'n rots." (v5)
Die skrywer het egter ondek dat hierdie belofte net op hom van toepassing kan wees as hy reeds sy intrek in die hut geneem het en in 'n soekende, aktiewe verhouding staan met die Eienaar daarvan: "Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel." (v4)
Dis slegs op daardie een plek – die skuilplek – waar daar 'n wegkom van die raserige lewe af is en waar 'n ontstuimige mens volkome stilte, vrede en rus kan vind.
Teen dié tyd weet jy seker al dat die hut die teenwoordigheid van die Here self is. En hierdie teenwoordigheid is nie in 'n fisiese gebou of tempel nie, maar in jou as gelowige! Jesus leer in Joh 15:4: "Bly in My, soos Ek in julle." Wanneer enige onheil dreig, steek Hy jou weg in Sy teenwoordigheid waar geen probleme, hartseer, probleme en dies meer jou laat voel soos 'n bokkie op 'n oop jagveld nie.
Natuurlik is jy nie gevrywaar van aanvalle en skote van lewensomstandighede wat op jou jag maak nie, maar jou vertroue, geloof en hoop in God is veilig. Jý is veilig! Niks, niks!, kan deur Sy teenwoordigheid dring nie, want Hy is God!
As jy weer 'n plek soek om weg te kruip, gaan soek gerus die mooi plek op waar jy rustigheid ervaar, maar fokus dan op Sy teenwoordigheid by en in jou. Motiveer jouself dan: "Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here! (v14) En wie weet, kort voor lank sing en psalmsing jy soos die Psalmskrywer. (v6)
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir 'n goddelike, eenkantplek waar my siel, my menswees veilig kan wees en waar ek nie angstig hoef te wees oor die dinge wat in my lewe aan die gang is nie. Ek vra dat U my ontvanklik maak vir dit wat U in die skuilplek van U tent met my wil deel. Amen.