Vers n dag - 14 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Vier fees en wees bly
Carina Francke
Skrifgedeelte: Nehemia 8:10, 11 (NAV)
"Moenie treurig wees nie, moenie huil nie. Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet. Nehemia het verder gesê: 'Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal hy julle beskerm."
Hoera! vir emosies. Daar ís 'n plek daarvoor in ons belewenis van dinge op aarde – ons Skepper het dit dan deel van ons samestelling gemaak! Om hartseer te wees oor verlies, oor dinge wat in jou lewe verkeerd geloop het of sommer net omdat jy bewus word van jou baie tekortkominge, het 'n helende effek op jou menswees. Dit word egter 'n probleem as hartseer al emosie is wat jy ervaar, of as dit 'n onvanpaste emosie vir die geleentheid is.
Ons bevind ons op die drumpel van 'n wonderlike feestyd waar Jesus se menswording gevier word. Vir talle mense is hierdie seisoen egter sinoniem met hartseer oor verlies in hulle lewens. Die baie vakansiedae en die stadiger lewenstempo in hierdie tydperk, maak tyd beskikbaar wat die treurige snaar begin tokkel.
Die volk Israel het bymekaargekom om te hoor wat in die wetboek van Moses geskryf staan en wat dit alles beteken. Dit kan amper vergelyk word met ons saamkom as families of gemeentes om net weer te hoor hoe Jesus dit as geen verlies beskou het om sy Godheid vir mensheid te verruil nie. Diep onder die indruk van wat hulle gehoor het, het die volk bitterlik begin huil, maar die voorlesers sê vir hulle: "Moenie treurig wees nie, moenie huil nie. . Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie."
Hoor jy? Daar breek 'n tyd aan wat trane verruil moet word vir 'n gelag, vir vrolikheid, vir feesviering! Dit moet aansteeklik word, daarom is die tweede deel van die opdrag: "Deel uit aan dié wat niks voorberei het nie." Is dit nie dalk die manier waarop die Here wil hê jy moet van jou hartseer ontslae raak nie ?– deur aan ander mense goed te doen; deur aan hulle van jou goed uit te deel?
Nehemia motiveer sy opdrag: "Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie." Hierdie vredesfeestyd gaan eintlik nie oor jou en my nie, maar oor Jesus wat vir ons 'n nuwe manier van lewe kom wys het. En dit alleen is rede genoeg om fees te vier en bly te wees!
Moet daarom nie bedroef wees nie, liewe leser, maar dien die Here met blydskap! Dit hou belofte vir jou in:"Hy sal jou beskerm." 'n Ander vertaling druk dit mooi uit: "Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here – dit is julle beskutting." Wil jy sonder sy beskutting wees?
Gebed: My Vader, dankie vir hierdie feestyd om U mens-word te vier. Ek wil my daarin verbly en vergeet van omstandighede wat hierdie jubeling in U, oor U, van my weg te hou. Ek verklaar vandag aan elke owerheid, mag en gesag: Christus is saam met my in hierdie feestyd, daarom lag ek, jubel ek, skree ek 'Hoera vir blydskap in die Here!' Amen.