Hennie Symington

Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ʼn lewende wese geword het. … Genesis 2:7-15
 
Tuine moes God baie na die hart gelê het want dit was die eerste ding wat Hy op aarde geskep het. Dit was pragtig om te aanskou en die vrugte van die tuin was goed om van te eet. God het selfs ʼn tuinier na sy beeld geskep as ʼn metgesel om die tuin te bewerk en dit saam met Hom te geniet. Toe Hy Adam geskep het uit ʼn handvol grond het God sy diepe verbintenis met die aarde te kenne gegee. Ons liggaam is gemaak van dieselfde elemente as die grond en word daagliks gevoed en opgebou deur die minerale en voedingstowwe wat ons eet en drink. Dit is dus nie vreemd dat die meeste van ons ʼn voorliefde vir die aarde toon deur die tuine wat ons aanlȇ nie.
 
Ongelukkig het die mens hierdie tuin deur sy vingers laat glip en vind ons ons meestal “Oos van Eden” en ver van die Tuinier. Maar daardie herinnering aan die idilliese tuin leef voort in ons harte en soms as ons erg verlang, ontdek ons stukkies van die tuin in onverwagte en tydlose momente. Kersfees is so ʼn moment wanneer ons daaraan herinner word dat Christus gekom het om ons verhouding met die skepping te herstel. Hy het gekom om God se aangesig aan ons te wys sodat ons sal onthou dat daar eenmaal, lank gelede ʼn tuin was waar God en mens stapmaats was. Terselfdertyd kom Hy om ons ʼn vergesig te bied op ʼn tuin wat weer sal blom, en waar God alles, en in almal sal wees.

Gebed: Here, as ek rondom my kyk sien ek ʼn tuin in verwoesting. Ons harte is stukkend as ons kyk wat die mens met die skepping gemaak het. Here, ons bid dat U ons lewens sal herstel en nuutmaak deur u vergifnis en liefde vir die mens wat U na u beeld gemaak het. Amen