Hennie Symington 

Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ʼn dor en droё land, ʼn land sonder water. Psalm 63:1
 
Wanneer jy vandag figuuurlik gesproke, jou lendene vir die soveelste keer omgord om die nuwe jaar aan te durf, nooi ek jou uit om op reis te gaan – nie oor die see nie, of selfs op ʼn bustoer na die strand nie – maar op ʼn reis na die verste uithoeke van die siel waar al jou drome, behoeftes en verlangens op die solder lȇ en stof vergader het. Jy hoef nie eens ʼn voet te versit nie; al wat jy nodig het vir hierdie reis is ʼn stil plekkie waar jy rustig kan wees.
 
Maak gereed vir ʼn reis na die diepste, verste paaie van jou siel wat gehard geraak het teen die hartseer van ander. Gaan op reis deur die droё woestyne waar jy die waarheid lank reeds as oorgewig bagasie agtergelaat het. Dis ʼn ekspedisie na die diepste woude van jou siel waar jou geloof gewurg word deur die digte indringerplante wat keer dat jy die eenvoud van God se boodskap raaksien. Eintlik is dit ʼn reis na verlore paradyse waar jy die pad na jou eie hart byster geraak het.
 
God nooi jou uit om op die minder gewilde roetes te reis, om die plekkies in jou hart waar jy die naaste aan jou Skepper was, weer op te soek. Of dalk selfs die plekke waar jy jou geloof agtergelaat het en gekies het om jou eie pad te volg deur die rotsagtige terreine en opdraendes van die lewe.
 
Die goeie nuus is dat jy nooit alleen gereis het nie. Jou reisgenoot wat nooit “sluimer of slaap” nie, het langs jou en voor jou uit geloop om jou op jou pad te bewaar. Mag jy vanjaar die vreugde van die reis saam God herondek.
 
Gebed:Gees van God, wanneer U my uitnooi om op reis te gaan, plaas U my voete op die pad van geregtigheid sodat ek in u spore kan volg. Bring my hande in gereedheid om regverdige dade te verrig sodat ek U met blydskap kan dien. Amen