Hennie Symington

Die evangelie van Jesus Christus die Seun van God, begin so … Markus 1:1
 
Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.  Lukas 2:8
 
Markus die evangelieskrywer noem glad nie die geboorte van Jesus nie, maar begin sy verhaal met Jesus se doop. Lukas plaas ons weer in die prentjie met beskrywings wat talle kersverhale geїnspireer het, insluitende die verhaal van die ou priester Sagaria wie se droom van die geboorte van ʼn man met die “gees en krag van Elia” bewaarheid word, die nederige herders op Betlehemsvelde, ʼn ster, ʼn engeleskaar, en natuurlik die wyse manne op hulle kamele op soek na ʼn ster.
 
Wie was Lukas, die skrywer van die derde Evangelie? Moontlik ʼn dokter wat saam met Paulus gereis het en die enigste nie-Joodse skrywer wie se geskrifte van om en by 50 of 60 jaar na Christus se hemelvaart in die Nuwe Testament ingesluit is.
 
Lukas se weergawe van Christus se geboorte vertel kortliks dat hy in ʼn stal gebore is, wat ons laat wonder waarom God sou toelaat dat sy Seun in sulke ongewone omstandighede gebore word. Miskien was dit ʼn manier om die gebeurtenis binne ʼn historiese raamwerk te plaas met die sensus wat deur keiser Augustus beveel is as verwysing.
 
En waarom was die skaapwagters die enigste genooides by die geboorte van die kind? Dit maak geen sin nie behalwe as hierdie koningskind waarlik ʼn mens was wat sou omgee vir alle mense – ryk en arm, en vir nasies en mense uit alle lae van die samelewing.
 
Wat beteken dit vir ons soveel eeue na hierdie wonderbaarlike gebeurtenisse? Die belangrikste punt wat Lukas waarskynlik by die leser wil tuisbring, is dat Christus in sy tyd op aarde hierdie belofte aan die gewone mense soos ek en jy sou maak: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” Lukas 14:9
 
Gebed: Here, al kom u boodskap na ons in die heel eenvoudigste taal, is dit so diepsinnig dat dit na meer as twee millennia steeds so nuut is soos die dag toe die engele dit gebring het. Ons staan in verwondering daaroor. Amen