Deur Benescke Janse van Rensburg

Ek sluit hierdie reeks af met ’n storie uit my nuwe boek, God is stééds God. Dit is van Riaan von Gericke wat tussen Excelsior en Marquard in die Vrystaat boer.

Riaan se hart het vinnig geklop waar hy gespanne op en af in die lapa stap. Deur sy trane het hy na God uitgeroep. Die naderende donderstorm met hael kon sy sonneblomme en mielies op die landerye tot teen die grond vernietig. Wat hierdie storm anders as enige van voriges gemaak het, is dat dit die eerste keer was dat hulle in geloof geen versekering op die oes uitgeneem het nie, maar besluit het om God vir hulle beskerming te vertrou:

Riaan: “Net voor die planttyd het ’n profetiese woord uitgegaan dat ons God vir beskerming en seën oor ons gewasse moes vertrou. Die afgelope vyf jaar was dit droog en ons het besluit om in geloof hierdie belofte aan te gryp. Vóór elke land wat ons geplant het, het ons gebid en nagmaal gebruik. Ons het God se leiding en beskerming gevra. Nadat ons klaar geplant het, het ons weer die hele oes aan God opgedra en gebid: ‘Here dit is U oes. Ons het geen beheer oor of dit gaan reën of nie. Ons vra dat U ons sal beskerm en seën.’

“Onder die lapa, met die stortreën, donderweer en hael wat al nader kom, moes ek veg teen my eie ongeloof en ook verwyt dat ek nie versekering uitgeneem het nie. In my agterkop het ek geweet dat as die hael ons oes vernietig, ons heel moontlik ons plaas sou verloor. Die laaste Whatsapp-boodskap wat ingekom het voordat ons sein verloor het, het gelees: ‘Bid vir die boere van Excelsior. Die hael is besig om hulle oeste uitmekaar te slaan.’

“Met trane op my wange, het ek in die Naam van Jesus Christus die wind en weer aangespreek. Hierna het ek gebid: ‘Here, dit is U oes. Ons is net die rentmeesters van die grond waarmee U ons vertrou het. Asseblief hou die hael van ons af weg.’ Dit was ’n oomblik van oorgawe. In my hart het ek geglo dat as ons dan alles verloor, God ons ook op ’n ander manier sal help oorleef.

“In daardie oomblik van oorgawe, het die windrigting meteens 180 grade verander. Waar die wind die reën aan die een kant van die lapa ingeforseer het, het dit heeltemal verander na die anderkant. Die bewolkte lug het oopgetrek. Die selffoonsein was terug en ek kon my seun, Rowlen wat langs ons boer bel. Sy eerste woorde was: ‘Pa, dit het ons gemis!’ Ons kon nie verder oor die telefoon praat nie. Ons het net saam gehuil. Wat ons beleef het, was ’n absolute wonderwerk.

“Met die haelbui in aantog, het Rowlen Eben in sy bakkie geklim en die bui tegemoet gery. In sy bakkie het hy God gesmeek om dit van ons plaas weg te hou. God het ons gebede gehoor. Waar van die boere in die omgewing groot skade gely het, het ons sonneblomblare slegs klein gaatjies gehad, niks meer nie. God het ons daardie dag beskerm en bewaar! Ons het ’n bo-gemiddelde sonneblomoes gehad en ons mielieoes is die beste in 7 jaar. God is waarlik ’n Waarmaker van sy Woord.”

In Psalm 135:5–7 lees ons: “Ek weet, die Here is groot, ons Here is verhewe bo al die gode. Alles wat die Here wil, doen Hy, in die hemel en op aarde, in die see, in al die oseane. Hy laat die wolke opkom oor die horison, Hy maak die weerligstrale vir die reën en bring die wind te voorskyn.”

God maak die weerligstrale en die wind, maar Hy laat dit ook bedaar omdat Hy stééds God is oor alles in die hemel en op aarde. Mag ons aanhou om Hom te vertrou – wetende dat Hy inderdaad stééds God is. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U stééds heers in my lewe. Ek lê vandag (noem jou uitdaging) voor U neer. Ek vertrou U soos Riaan U vertrou het vir ’n deurbraak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

** Sien foto’s van Riaan en Rowlen Eben en luister na Riaan se getuienis: https://benescke.co.za/dag-21-god-maak-steeds-storms-stil/

 

**Wen ’n boekpak: Benescke gee ’n boekpak (ter waarde van R900) weg. Om in aanmerking daarvoor te kom, klik hier: https://benescke.co.za/wen-n-boekpak-met-5-boeke/ Jy kan ook die boek, God is stééds God kry by: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/

 

** Nota van skrywer:

Baie dankie aan elke leser wat hierdie maand saamgesels het en getuienisse gedeel het. Ek waardeer dit baie. Mag ons aanhou om ons stories met mekaar te deel sodat God se Naam grootgemaak word.

 

Geseënde Kersfees en ons gesels weer in 2021.

Benescke

 

**TERUGVOER: Het jy die reeks geniet?  Gee gerus terugvoer by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..